Geen welkom tuis-partytjie nie
In Johannes 9 lees ons van ‘n blinde man wat genees is. Die spontane reaksie wat ‘n mens verwag wanneer iemand se lewe so radikaal verander, is uitbundige blydskap. Die blinde se mense het genoeg rede om saam met hom bly te wees en fees te vier (Joh. 9:6), maar met sy terugkeer na sy …
In Johannes 9 lees ons van ‘n blinde man wat genees is.
Die spontane reaksie wat ‘n mens verwag wanneer iemand se lewe so radikaal verander, is uitbundige blydskap.
Die blinde se mense het genoeg rede om saam met hom bly te wees en fees te vier (Joh. 9:6), maar met sy terugkeer na sy mense is hulle nie saam met hom bly nie, en is daar geen welkom tuis partytjie nie.
Dit is veral die Fariseërs wat nie deel nie in sy blydskap nie. Wat hulle veral pla het, is die feit dat Jesus die blinde man op die Sabbat genees (Joh. 9:16). Ken hy dan nie die wet van Moses nie? Hy gaan sowaar ook so ver om klei aan te maak op die Sabbat, en dit is werk!
Die wet is tog duidelik, niemand mag op die Sabbat werk nie.
Die super-godsdienstige Fariseërs was meer besorg oor die nakom van wette as oor die genesing van die blinde man. Daar is by hulle geen liefde en deernis te bespeur nie!
Wat die Fariseërs nie besef nie, is dat hulle eintlik die blindes is. Hulle meen hulle staan by die wet van Moses, maar hulle is ver van God se wet van die liefde (Matt. 22).
Om blind te wees, sê Hellen Keller, is erg, maar om te kyk en nie te sien nie, is baie, baie erger. Nou kan ‘n blinde man sien, maar die wat kan sien, die Fariseërs, is die eintlike blindes. Die wêreld wat die blinde man sien, is ‘n harde, genadelose wêreld waar wette vir godsdiensleiers belangriker geword het as mense.
Laat een nag sit ‘n wyse man en ‘n paar van sy studente en gesels. Dit was in die donker uur net voor die dag breek.
“Hoe sal julle weet wanneer die nag verby is en die nuwe dag begin, vra hy hulle?”
Nadat die leerlinge die vraag van alle kante af beredeneer het, en bespreek het, maar niemand met ‘n beter antwoord vorendag kon kom nie, vra hulle: Wil u nie maar self die vraag vir ons beantwoord nie?
Die wyse man het gesê: “As ‘n mens in die oë van ‘n medemens kyk en in hom of haar ‘n broer of ‘n suster raaksien, dan weet jy dat die nuwe dag begin het. Vir hulle wat dit nie kan doen nie, bly dit altyd nag. Hulle bly blind en in die donker.”
Mense vir wie reëls en wette belangriker as mense is, is die eintlike blindes van ons tyd.
