My stryd teen die rookduiwel
Ek rook al van die ouderdom van 13 jaar af; skandelik, ek weet. Nie een van my ouers het gerook nie en ek het altyd skelm gerook saam met my maats wat my aan die plesiere van sigarette bekendgestel het. Daarna het ek nooit ophou rook nie, ek het nie eens probeer nie. Na my …
Ek rook al van die ouderdom van 13 jaar af; skandelik, ek weet.
Nie een van my ouers het gerook nie en ek het altyd skelm gerook saam met my maats wat my aan die plesiere van sigarette bekendgestel het. Daarna het ek nooit ophou rook nie, ek het nie eens probeer nie.
Na my 30ste verjaardag het ek begin agterkom wat die rook aan my liggaam doen en hoe hierdie slegte gewoonte my sak ruk. Ek kan nie eens ‘n stel trappe klim sonder om uitasem te raak nie.
My tandvleis het ook baie seer begin raak en die tandarts het reguit vir my gesê dat die oorsprong van die probleem by my rookgewoonte lê. Hy het gewaarsku dat ek al my tande binne vyf jaar kan verloor indien ek nie ophou rook nie.
Die rokery het ook ‘n slegte invloed op my sosiale en professionele lewe. Mens kry skaam om met nie-rokers te gesels nadat jy ‘n sigaret gerook het. Nie-rokers kan die stank van sigaretrook van ver af ruik. My man rook ook nie en vind hierdie gewoonte afstootlik.
Finansieel is my rookgewoonte ook nie goed vir my en my gesin nie. Ek spandeer ongeveer R1 300 aan sigarette elke maand. Dit is R15 600 per jaar. Ek kan eerder hierdie geld gebruik om saam met my gesin op vakansie te gaan.
Daarom het ek besluit om op te hou rook en by Marie Helm aangeklop vir hulp. Marie is ‘n gekwalifiseerde hipnoterapeut wat by die Suid-Afrikaanse Instituut van Hipnoterapie (SAIH) geregistreer is.
Na my eerste sessie saam met Marie, het sy gesê ek moet ‘n joernaal hou van my rookgewoontes. Sy het verduidelik dat rook ‘n tipe verslawing is wat geaktiveer word deur ‘n persoon of situasie.
Die verslawing is so sterk dat gewone wilskrag en dissipline alleen nie genoeg is om op te hou rook nie. Sy het ook gesê dat sy ‘n terapeutiese program het om mense te help om op te hou rook en dat dit nie net hipnose alleenlik is wat vrugte afwerp nie.
Marie het verduidelik hipnoterapie is besonder gewild onder mense wat wil ophou rook en dat sy baie sukses behaal met hierdie program van haar. Hipnoterapie maak dit moontlik om hulpbronne uit jou onderbewussyn te gebruik om jou doel te bereik.
“Jou toewyding aan die program sal jou sukses bepaal,” het sy gesê.
Ek skryf getrou in my joernaal soos wat Marie beveel het en ek is slaggereed vir my volgende afspraak met Marie.
Ek sal nie toelaat dat sigarette my lewe regeer of ruïneer nie. Ek is vol vertroue dat ek hierdie gewoonte kan klop.
