Aftrede wink – sorg dat jy vooruit beplan
Die feit dat daar al baie geskryf is in sake-tydskrifte en finansiële literatuur oor mense wat te min spaar vir hulle aftrede, laat ‘n mens soms voel dat dié aspek al holrug gery is. Maar as ‘n mens sien hoe ellendig die bestaan van mense is wat hulle hele lewe lank hard gewerk het, en …

Die feit dat daar al baie geskryf is in sake-tydskrifte en finansiële literatuur oor mense wat te min spaar vir hulle aftrede, laat ‘n mens soms voel dat dié aspek al holrug gery is.
Maar as ‘n mens sien hoe ellendig die bestaan van mense is wat hulle hele lewe lank hard gewerk het, en dan by aftrede sukkel om ‘n behoorlike bestaan te voer, dan besef ‘n mens opnuut dat daar sekerlik nie genoeg hieroor gewaarsku kan word nie.
Nie een van ons se potensiële spaar poging is presies dieselfde nie. Hoe klein jou spaar poging ookal is, en wil mens amper sê al het jy nie spaar potensiaal nie, moet daar, hoe gering ookal, ‘n bydra gemaak word of gevind word vir jou aftrede.
Hierdie opmerking mag dalk vir jou belaglik klink, maar as ons op ‘n jong ouderdom met ‘n klein bedraggie begin (in vandag se terme net R50 per maand) dan sal jy verbaas wees hoe rente op rente ‘n krag is wat op langtermyn baie harder vir jou aftrede sal werk, as wat jy ooit gedroom het.
Hierdie week se inset by Kollig is vir al gerig op jong werkende mense en ouer persone wat besef hulle moet meer doen, want net sowat 15 % van Suid-Afrikaners met private pensioene trek tans ‘n pensioen waarmee hulle gemaklik kan uitkom. Al die ander pensioenarisse sukkel om hulle maandelikse begroting te laat klop.
Volgens Sake Beeld van 29 Januarie 2015 het die gemiddelde Suid-Afrikaanse pensioentrekker (ouer as 60) pensioen van slegs R5 772 per maand in Desember 2014 getrek – uitgesluit belasting en medies aftrekkings. Die gemiddelde werker in die formele sektor het in dieselfde tyd sowat R11 850 per maand verdien en derhalwe kan ‘n mens sien dat daar ‘n skerp daling in inkomste ervaar word wanneer mense aftree.
Volgens Mike Schüssler (ekonoom) kan ‘n besteebare pensioen van R10 000 per maand as “gemaklik” beskou word: en net 15% van pensioentrekkers in Desember 2014 het meer as dit getrek.
Deel van pensioentrekkers se probleem is dat mense wêreldwyd langer lewe. Die ouderdomsgroep 60 en ouer groei vinniger as enige ander ouderdomsgroep (statistieke Suid-Afrika).
Net uit bogemelde klompie statestiek en feite is dit duidelik dat ‘n mens jouself moet dwing om so vroeg as moontlik in jou lewe te begin spaar vir jou aftree-jare. ‘n Mens kan nie daarop hoop dat jy gaan werk tot jy omval nie. Daardie dag kan baie laat opdaag of jy kan intussen baie siek word. ‘n Wyse mens sal ag gee op hierdie situasie en plan maak al kos dit dalk ‘n bietjie sny op luukshede en doellose uitgawes wat ons soms so maklik maak.
Groetnis,
Koos
* Koos de Wet is ‘n finansiële beplanner by PSG en lid van die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika. Lesers kan hom kontak by (015) 491 2020 / 082 881 4672 of psgk@mweb.com
