BlogsOpinion

RUSPLEKKE EN RIGTINGWYSERS: Waaroor gaan Aswoendag?

Die naam Aswoensdag hou verband met die gebruik in baie kerke om 'n kruis van as, gewoonlik 'n mengsel van olyfolie en as, op die voorkoppe van erediensgangers te maak.

Die naam Aswoensdag hou verband met die gebruik in baie kerke om ‘n kruis van as, gewoonlik ‘n mengsel van olyfolie en as, op die voorkoppe van erediensgangers te maak.

Aswoensdag kom van die Bybelse gebruik om as op jou kop te strooi (Daniël 9:3). Die as is ‘n teken van rou en berou voor God (Job 42:3-7; Jeremia 6:26). Dit is ook ‘n geleentheid van klaag vir die mense in ons samelewing wat nie geregtigheid ken nie.

Die gebruik is tans algemene praktyk in die Christendom en die dag word wyd gevier deur Metodiste, Presbiteriane, Katolieke, Lutherane, Anglikane en sekere Baptiste.

Die as is dus ‘n simbool van berou oor ons sonde teen God, mekaar, ander en ons omgewing. Aswoensdag vind 46 dae voor Opstandingsondag plaas (18 Februarie 2015) en dui die begin van Lydenstyd aan.

Dit is ‘n dag van skuldbelydenis, verootmoediging, en ‘n oproep en ‘n onderneming tot diens, groter Christelike dissipline en matigheid. Op die dag konfronteer ek myself weer opnuut met die vrae: “wanneer is genoeg genoeg” en “het ek dit regtig nodig”. Dit moet my aanspoor tot ‘n lewe van groter eenvoud.

Om jouself te verootmoedig is om jouself na waarde te skat. Dit moet ons dwing tot ‘n intense nederigheid.

Een van my gunsteling mense,Winston Churchill sê van Clement Atlee, ‘n politieke opponent: “Clement Atlee is a modest man, who has so much to be modest about”.

As ons eerlik is met onsself, sal ons bely en erken dat ons rede het om nederig te wees.

Die askruis is ook ‘n simbool van bekering (Matteus 11:21; Lukas 10:13).

Ons bekeer ons van ons verkeerde optredes en draai terug na God toe. Die askruis is ook ‘n simbool van boetedoening en aanmoediging om reg te maak waar ek verkeerd gemaak het en terug te gee wat ek ander onregmatig ontneem het.

In hierdie rasionele era het ons die waarde van simbole verloor. Ons gooi alles onder woorde toe en laat nie toe dat God ook deur simbole met ons praat nie. Die klimaat van ons tyd wil graag alles reduseer tot die harde werklikheid van woorde alleen, en so verloor ons die mistieke waarde van simbole.

Daar ‘n sterk neiging terug na die gebruik van simbole in aanbidding. Simbole raak ons aan en praat met ons op ‘n vlak wat woorde nie kan nie. Simboliese handelinge bied die geleentheid tot ‘n besondere belewenis en kommunikeer op ‘n manier wat woorde alleen nie kan nie.

Daarom moet ons ophou om alles in die erediens te begrawe onder woorde. Ons moet simboliese handelinge uitbou en die woorde al meer laat. God kom nie net na ons toe in harde, koue woorde nie, maar meer dikwels as wat ons sou wou toegee in woorde wat toegewikkel is in simbole en tekens wat al ons sintuie betrek.

Die moderne kommunikasiekunde het ontdek dat die verbale alleen maar ‘n bitter klein deel uitmaak van die kommunikasieproses. Dikwels praat ‘n “drukkie” harder as ‘n 1000 woorde. ‘n Jonggetroude vrou sal nie maklik haar man se woorde onthou toe hy die ja-woord gevra het nie, maar sy sal altyd onthou hoe hy die groot vraag op sy knieë voor haar gevra het. Ervarings word veel langer onthou as woorde.

Dink maar aan die waarde van die tekens van brood en wyn, of water. Dink maar aan die waarde van olie en as. Die gebruik van simbole en tekens moet nie gering geag word nie, maar die waarde daarvan behoort juis sterker na vore gebring te word.

Nie alle Christelike gemeentes vier Aswoensdag nie, maar min Christene sal twyfel oor die noodsaak van berou, verootmoediging, nederigheid, bekering en boetedoening, en kruise van as op ons voorkoppe doen dit op ‘n wyse wat woorde alleen nie kan nie! Dit mag egter nooit so intens raak dat dit God in ons lewens verdring nie. Dan word dit ‘n afgod!

Die N.G. kerke in Polokwane hou ‘n gesamentlike Aswoensdagdiens op 18 Februarie om 18:00 in die kerkgebou van die NG gemeente Pietersburg-Oos. Die kerkgebou is op die hoek van Betz en Natorpstrate in die Capricorn area.

Alle inwoners is meer as welkom om hierdie diens by te woon.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button