
AUNTIE Winnefred is 80-jaar-oud en ‘n oujongnooi. Sowat 60 jaar gelede het haar verloofde op haar verjaardag, ‘n week voor hul troudag, verongeluk en sy het nooit weer geluk in liefde gevind nie.
Hy was Afrikaans en sy Engels, maar taal het nie vir hulle saak gemaak nie. Sy is gul in sy familiekring opgeneem en na sy begrafnis was daar soveel deernis teenoor haar dat sy as’t ware as ‘n eie dogter in sy uitgebreide familie opgeneem is.
Die talle nefies en niggies het in haar ‘n geliefde tante gevind, wat in alles behalwe bloed, familie van hulle was. Haar Engelse herkoms het sy egter bly hou, sodat die aanspreekvorm van “Auntie” vanselfsprekend geword het.
Nou bevind sy haar in die ouetehuis. Na ‘n leeftyd van geforseerde selfstandigheid het sy op lange laas haar meenthuis opgegee en hier tussen haar tydgenote kom nesskrop.
Aanvanklik is dit bietjie vreemd om aan tyd gebonde te wees, want dis etenstye en kliniektye en TV-tye, maar na ‘n paar maande het sy heel tuis gevoel. Self al amper vergeet dat sy eens op ‘n tyd nie ‘n woord Afrikaans kon praat nie, waar dit hier nou so gemaklik van haar tong afrol. In ouderdom is daar nie werklik meer onderskeid nie, want ouderdom se genadeloosheid werk eenders met almal, ongeag hul herkoms.
Een oggend is daar ‘n alleen-omie aan die ontbyttafel. Hy het die vorige middag ingeboek; daar afgelaai deur sy kinders uit die stad wat besluit het dis makliker om vir hul pa se verblyf op ‘n plattelandse dorp naby die stad te betaal as om hom self aan hul eie etenstafel te hê.
As oujongnooi kleef die “man-soek” stigma van die klomp weduwees nie aan haar nie en sy gaan stel haarself voor. Hy is Klasie. Die hartseer lê vlak in sy dowwe oë toe hulle later begin familie uitlê en hy vertel van sy geliefde Sarie wat sommer een oggend net nie wakker geword het nie. Na 57 jaar se saam opstaan soggens was hy skielik alleen.
Op aandrang van die kinders het hy na die begrafnis die huis verkoop en tussen sy kinders begin swerf. Weliswaar tussen sy mense, ja, maar steeds eensaam omdat algar hulle eie koers gelewe het en nie werklikwaar tyd vir of belangstelling in hom gehad het nie. Daar was wel iewers ‘n kleinseun wat nogal na aan sy oupa was, maar nadat dié na Kanada emigreer het, het daardie kontak ook verbrokkel. So het hy vir drie jaar aangesukkel en was eintlik verlig toe die kinders begin praat van ‘n ouetehuis vir hom. Met die rondswerwery het hy darem kontak behou met een van sy ou vriende.
Spoedig sit die Klasie en Winnifred gereeld soggens saam op die stoep in die sonnetjie.
Toe Klasie se vriend die eerste keer kom kuier, ontmoet Winnefred vir Hymie, van Joodse herkoms, en ontdek tot haar verbasing dat hy oujongkêrel is.
Iewers in sy jeug was daar wel ‘n liefde, maar uit die Roomse kerk. Dit het soveel teenstand van beide families opgelewer dat die verhouding uiteindelik skipbreuk gelei het, wat Hymie uit wrewel sy familie, geloof en kultuur laat afsweer het. Met net ‘n paar vriende het hy eensaam oud geword.
Dit laat Winnefred onwillekeurig dink aan hoe moeiteloos sy die taalgrens in haar eie jeug kon oorsteek. Hymie kom besoek gereeld en toe daar weer ‘n plekkie in die ouetehuis oopgaan, doen hy aansoek. Kort daarna is hulle ‘n driemanskap wat soggens die sonnetjie opsoek.
Winnefred se uitgebreide aangenome familie, sommige al van die vierde geslag, kom steeds gereeld kuier en as daar net ‘n familiesaamtrek roer, sleep hulle haar saam sodat die twee omie’s mettertyd ook betrek en ingetrek word en daar weer lewe in hul oë kom omdat daar iets in hul andersins leë dae is om na uit sien.
Een oggend kom Hymie van die dorp af terug en kom klop aan haar kamerdeur. Toe sy oopmaak, oorhandig hy woordeloos ‘n rooi roos aan haar, draai om en stap weg.
Winnefred is so oorbluf dat hy al om die hoek van die gang is voordat sy aan iets kan dink om te sê, maar toe is hy al buite hoorafstand. Toe die roos ook met ander klein geskenkies opgevolg word, gaan praat sy met matrone en die dominee.
Een oggend draai sy bietjie langer as gewoonlik en eers toe sy seker is dat altwee reeds op die stoep sit, kom sy uit haar kamer. Anders as gewoonlik gaan sit sy nie tussen hulle twee nie, maar gaan sit aan Hymie se buitekant sodat hy nou in die middel is.
Matrone sê heelwat later sy kan ‘n dubbelkamer met ‘n eie badkamer vir hulle regmaak en Dominee sê hy sal die bevestiging doen, maar dan moet Hymie eers katkiseer.
Op die oggend van haar 84ste verjaardag staan Winnefred voor die kansel, in haar hande ‘n enkele rooi roos as bruidsruiker.
Dominee preek uit Korinthiërs van geloof en hoop en liefde en dat die liefde hom deur niks laat keer nie. Klasie, as strooijonker, laat amper die ringe val toe die bruidspaar mekaar die regterhand moet gee. Die personeel van die ouetehuis help om hul besittingkies van hul onderskeie enkelkamers na die dubbelkamer toe oor te plaas en versier die kamer met blomme en linte as ‘n bruidskamer.
Daardie aand gebruik Winnefred eerste die badkamer en kom in haar kamerjas tevoorskyn. Toe Hymie die deur agter hom toemaak, maak sy haar klerekas oop, haal ‘n plat kartondoos van die boonste rakkie af en maak dit oop.
Met blou beaarde hande vou sy die kreukelpapier daarbinne oop en haal die ongebruikte huweliksnagrok, wat sy vier en sestig jaar gelede daarin gebêre het, versigtig uit. Die nagrok ruik effens na mottegif en sy sprinkel vinnig bietjie laventel oor. Toe glip sy dit oor haar kop, gee haar hare ‘n paar ekstra hale met die haarborsel en gaan haar 83-jarige bruidegom met ‘n blos op haar wange en ‘n bonsende hart tegemoet.
