BlogsOpinion

KOLLIG: Opsies beïnvloed inkomste uit beleggings

KOLLIG: Koos de Wet

1. Watter risiko is jy bereid om te loop vir ‘n bepaalde opbrengs?

2. Hoe lank moet die kapitaal waaruit jy inkomste verdien, hou?

3. Is dit jou enigste inkomste?

4. Het jy ander beleggings wat ‘n gebalanseerde portefeulje saam met jou nuwe belegging kan skep?

Geen belegging (selfs kontant in die bank) is risiko vry nie. As die geld jou 20 jaar lank moet hou, gaan jy in ‘n mate aan beteklasse soos aandele en/of eiendom blootgestel moet word om te help dat jou kapitaal met inflasie tred hou.

‘n Gebalanseerde portefeulje beteken dat jou beleggings gediversifiseer is tussen verskeie bateklasse (dus aandele, eiendom, effekte en kontant). Dit is uiters belangrik om jou belegging te beskerm teen markveranderinge en inflasie.

Afhangende van hoe groot die enkelbedrag is, sou ek persoonlik nie my geld net in een bateklas belê nie, maar in ‘n kombinasie daarvan. Die feit dat markte op en af tye beleef, is ‘n realiteit.

Toets elke beleggingsopsie aan die hand van bogemelde vrae:

1. Kontantopsie of effekte

As jy die rente wil trek op die kapitaal, maar steeds baie vinnig toegang tot jou geld wil hê, kan jy vastedeposito- of geldmarkrekeninge by ‘n bank of geldmarkopsies by ‘n batebestuursmaatskappy oorweeg. Die nadeel is dat die rentekoers baie naby aan die inflasiekoers (of minder as) is, wat beteken dat die kapitaal uiteindelik in waarde gaan agteruit boer.

Hierdie is nie die ideale langtermyninkomste-oplossing nie, veral nie as dit jou enigste inkomste is nie.

Effekte soos kleinhandelstaatseffekte is ook ‘n opsie, aangesien dit ‘n vaste koers is vir ‘n termyn en jy kan daarvolgens beplan.

2. Annuïteite/Jaargelde

Kwotasies vir vrywillige annuïteite of jaargelde (met ander woorde een wat jy met jou eie geld en nie met pensioengeld koop nie) waar net jy of ook jou gade ingesluit is vir inkomste (dus as een sterf, gaan die inkomste voort aan die oorblywende gade) waarop daar ook sekere belastingvoordele is.

Jy kan met hierdie inkomste beplan aangesien dit ‘n vaste bedrag is wat jy elke maand verdien. Dit kan laer begin en jaarliks groei teen ‘n persentasie (wat jy kies) of dit kan met meer begin, maar dan nie jaarliks aanpas nie.

Jy gee gewoonlik jou kapitaal prys vir hierdie vaste inkomste, so maak baie seker van die voor- en nadele.

3. Aandele (regstreeks of via ‘n effektetrust-portefeulje)

Met direkte aandele sal die risiko grootliks bepaal word deur jou of die aandelemakelaar se keuse van aandele (getal en in watter bedrywe).

Met effektetrust kan jy fondse kies wat in verskeie maatskappye se aandele belê. Deur fondse in te sluit wat ‘n groter blootstelling aan kontant het, kan die risiko verlaag word en kan jy steeds die jaarlikse rentevrystelling maksimaal benut.

Die voordeel van hierdie opsie is dat jy groei in jou portefeulje kan bewerkstellig en dat dit beter met inflasie kan byhou.

Die nadeel is dat as die markte daal, jy meer aandele moet verkoop om dieselfde inkomste te handhaaf, wat op sy beurt jou totale portefeulje vinniger kan laat krimp.

4. Huureiendom

Daar is wel koste verbonde aan huureiendom, maar dit kan op lang termyn goeie inkomste gee wat elke jaar groei. Jou eiendomswaarde self sal ook groei mits jy in die regte gebied koop. Jy moet jou inkomste reg beplan om genoeg voorsiening vir leegstaan-tye en onderhoud aan geboue te maak.

Groetnis

Koos.

* Koos de Wet is ‘n finansiële beplanner by PSG en lid van die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika. Lesers kan hom kontak by (015) 491 2020 / (082) 881 4672 of stuur ‘n epos na psgk@mweb.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button