Marmite kry haar maatjie
Die wildteelsentrum in Mokopane is ‘n verlengstuk van die Nasionale Dieretuin en is baie gewild onder besoekers. Daar is oulike oornaggeriewe en dis een van die weinige plekke (miskien die enigste) tussen Pretoria en Musina waar jy sommer net van die pad kan aftrek en teen ‘n geringe fooi in veiligheid tussen diere en onder …

Die wildteelsentrum in Mokopane is ‘n verlengstuk van die Nasionale Dieretuin en is baie gewild onder besoekers. Daar is oulike oornaggeriewe en dis een van die weinige plekke (miskien die enigste) tussen Pretoria en Musina waar jy sommer net van die pad kan aftrek en teen ‘n geringe fooi in veiligheid tussen diere en onder bome ‘n piekniekmandjie te voorskyn kan haal. Al wat miskien kan pla, is as die kolganse op die gras onder jou boom gewei en hul visitekaartjies agtergelaat het. Dis egter waarvoor ‘n reisdeken daar is.
So ‘n uur se rit deur die sentrum bring jou by verskillende tipes jagkatte se kampe uit. Daar is onder andere ‘n trop buffels, kameelperde, wildehonde asook ‘n verskeidenheid ander vrylopende diere wat moontlik jou pad kan kruis.
Aan die kant van die piekniekplek is daar verskeie kampe, met in een van hulle Marmite.
Marmite is die oulikste ding denkbaar. Spekvet en rond van molligheid, reageer sy op haar naam en as jy roep, kom maak sy haar bek oop vir ‘n appel. Swemtyd is ‘n groot plesier, want dan plons sy in haar swembad rond en spat water alle kante toe. Daar is egter net een probleem. Sy dreig om ‘n oujongnooi te word en smag na bietjie manlike aandag.
Toendertyd vertel Mark Howitt van die wildteelsentrum my dat daar wel ‘n maatjie vir haar in die Nasionale Dieretuin is met die paslike naam van Bovril, maar dat die akkommodasie nie geskik is vir ‘n paartjie nie. Dis glo net groot genoeg vir ‘n “spinster” en Marmite wil nie ‘n oujongnooi wees nie. Daarvoor is sy hopeloos te aantreklik en sy weet sommer dat enige maatjie net met die aanblik sommer tot oor sy ore smoorverlief op haar gaan raak. Dit beteken natuurlik dat daar dan spoedig ‘n babakamer ingerig sal moet word. Probeer jy nou ‘n “batchelor” en ‘n baba in ‘n eenvertrekwoning inpas, al is die bad lekker groot en die tuin heerlik om in te waggel.
Vir die wat nog nie kon raai nie, Marmite is ‘n dwergseekoei uit Wes-Afrika – een van die oulikste diere wat jy kan hoop om te sien – en as ek my feite reg het, is die wildteelsentrum een van net ‘n paar plekke in Suid-Afrika waar jy so ‘n dier sal vind. Maar Marmite was in daardie stadium ‘n baie eensame dwergseekoei uit Afrika en daarom het sy knaend na ‘n maatjie gesoek.
Probleem was egter dat die sentrum toe die ruimte, maar nie die fondse, gehad het sodat Marmite se blyplek uitgebrei kon word om ‘n maatjie te kan huisves nie. In daardie stadium sou R25 000 dit kon doen, maar waar op aarde kry mens nog iemand wat ter wille van eensaamheid bereid is om te help?
Tot dan bly Marmite haar dae in eensaamheid slyt, kom haal ‘n appel as jy haar roep, plons soms in haar swembad rond en bly verlang na ‘n maatjie.
Onlangs was ek weer daar en watter vreugde – Marmite het haar maatjie gekry (die einste Bovril), nadat die Nasionale Dieretuin fondse bewillig het om haar blyplek groter te maak. Die wonderlike nuus is dat die tweede pienkvoet nou al saam met haar rondswem. Die se naam is Mudbud, nadat sy ouer boetie Oxo gedoop is. Op my vraag wanneer Fray Bentos dan vernoem gaan word, antwoord Mark ewe droogweg, “miskien volgende keer”.
Ons gesels toe oor die voortbestaan van die dwergseekoei. Mark is hulle stamboekhouer vir Suidelike Afrika. In Suid-Afrika is daar net 14 van hierdie diere, versprei tussen Mokopane (met vier die grootste konsentrasie in Suid Afrika), Pretoria, Oudtshoorn, Johannesburg, Rustenburg, Krugersdorp en nog een ander plek. Wêreldwyd is daar net 343 geregistreer. Na skatting is daar 2 500 in Wes-Afrika oor, maar dis ‘n konflik sone daar en die middelpunt van die Ebola uitbraak. Niemand weet dus vir seker nie. Miskien is hulle almal alreeds opgevreet.
Die probleem in Suid-Afrika blyk egter te wees dat daar net ses koeie is. Daar is nou kontak gemaak met die wêreldstamboek vir dwergseekoeie om te help verhoed dat inteling voorkom en om hulle genepoel so divers as moontlik te maak. Dit alles kos egter geld.
Gaan kuier gerus vir Marmite, Bovril, Oxo en Mudbud by die wildteelsentrum en indien u die Lotto wen of die regering nie reeds u laaste paar miljoen gesteel het nie, oorweeg om Marmite en maatjies se voortbestaan te ondersteun. Met die geharwar waarin ons plaaslike munisipaliteit verkeer, sal ek min verbaas wees as een of ander stommerik aldaar, net om die aandag van hul binnegevegte af te lei, dit in sy kop kry om die wildteelsentrum omskep te probeer kry in ‘n laekoste behuisingsgebied. Ek het hoeka reeds so ‘n gerug gehoor. So iets mag eenvoudig nie.
