BlogsOpinion

GEESTELIKE POTPOURRI: Kies om ‘n agent van verandering te wees

ELKE dag word fokus geplaas op jou en my keuses. 'n Keuse vir uiteet by 'n restaurant of self kos maak voor die beurtkrag begin.

ELKE dag word fokus geplaas op jou en my keuses. ‘n Keuse vir uiteet by ‘n restaurant of self kos maak voor die beurtkrag begin. Die keuse vir ‘n heerlike draai-roomys of eerder ‘n roomys op ‘n stokkie. Keuses vul die daaglikse lewe op alle terreine en ons ondersteun die gedagte dat ons ‘n vrye keuse het. Tog is ‘n vrye keuse eintlik ‘n mite. Ja, ons kies tussen bruin brood en witbrood, pampoen en spinasie maar ons word beheer deur die gedagtes wat in ons harte leef.

Elke dag is daar ‘n stryd in ons harte om goed en reg te doen. Die begeerte wat ons harte oorheers bepaal die uitkoms van die keuses. Die lewe is een lang maraton waarin verskeie keuses gemaak word om meer en meer Gees–geïnspireerd te leef. Daar is nie kitsoplossings vir gebroke verhoudinge, teleurstellings, worstelinge met die verlede en onbeantwoorde vrae nie. Omstandighede verander nie in ‘n oogwink nie en ongesonde gewoontes en gedagtes word nie in ‘n oogwink afgeleer nie.

Horatius Bonar skryf dat wanneer ons ‘n keuse gemaak het om in ‘n verhouding met die Here te leef, ons deur die Gees gebeitel word om meer en meer die beeld van die Seun te vertoon. Ons is egter nie lewelose marmer nie en daarom is die stryd voortdurend tussen wat die Gees ons van oortuig en wat onsself na hunker. ‘n Keuse wat ons egter elke dag moet maak is die keuse om te wil verander. Elke dag is dit ‘n keuse om aan te hou vriendelik wees met hulle wat my te na gekom het. Dit is elke dag ‘n keuse of ek ‘n bydra gaan lewer om die omstandighede van my gesin te verander. Dit is ‘n uitdaging om ‘n keuse te maak dat God groter is as ons uitdagings, verlies, vreugdes en ervarings. Dit is ‘n keuse vir ons om elke dag te onthou wie ek is – word ek gevorm deur die kringe waarin ek beweeg, klere wat ek dra en besittings wat ek het of is dit my verhouding met die Here.

Die stryd vir ons elkeen is nie in die groot goed nie. Ons as Christene in Suid-Afrika gaan nie maklik in ‘n situasie beland om ‘n keuse te maak teen Christus om ‘n marteldood vry te spring nie. Ons stryd bestaan in die duisende klein oomblikkies met keuse om te maak. Die keuse in die oomblikkie tussen die eie-ek en diens. Die stryd tussen omgee en verwerp. Die oomblikkie van dankbaar wees en kla. Die oomblikkie om te besluit of ek aanhou en of ek opgee.

Dit verg inspanning om aan te hou glo terwyl die wêreld gevul is met leuens om die Waarheid te weerspreek.

Ons keuse om deel te neem aan die verandering en self te bly verander is om voortgedryf te word deur ons wilsbesluite wat gemaak is in geloof. Elke keuse wat deur hoop onderstreep word is ‘n geleentheid om verder te bly kyk as die leuen dat verandering nie moontlik is nie.

Ons kan die keuse maak om ‘n agent te bly van verandering omdat ons oortuig is ons word deur Christus daagliks van oomblik tot oomblik verander deur die beitelwerk van die Heilige Gees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button