BlogsOpinion

KATROLKOORS: ‘n Kouefront maak nie net die mense lui nie

Die afgelope drie weke het ons na belangrike interne faktore gekyk wat swartbaarhengel beïnvloed naamlik watertemperatuur, water se suurstofinhoud en waterhelderheid. Ander interne faktore kan ons kortliks bespreek soos dit nodig word.

Die afgelope drie weke het ons na belangrike interne faktore gekyk wat swartbaarhengel beïnvloed naamlik watertemperatuur, water se suurstofinhoud en waterhelderheid. Ander interne faktore kan ons kortliks bespreek soos dit nodig word.

Wanneer dit kom by eksterne faktore en veral faktore wat swartbaarhengel in die winter beïnvloed, is koue fronte sekerlik een van die belangrikstes.

‘n Koue front is ‘n bewegende lugmassa wat koeler is as die lugmassa waarheen die koeler lug oppad is en waar die twee lugmassas ontmoet vorm dit ‘n front – ‘n koue front. Koue lug het ‘n hoër digtheid as warm lug en is gevolglik swaarder. Hierdie kouer lugmassa waai onder die ligte warmer lug in en gaan gewoonlik gepaard met bewolkte weer en reën. Na die koue front verby is ervaar ons koue, wolklose dae.

In die noordelike dele van ons land is die koue fronte nie so erg soos in die Kaap nie, maar as ons na die afgelope naweek kyk, was die hele land vasgevang in ‘n koue front. Weerkundiges het die naweek voorspel met die woorde “reën, sneeu en rugby”. Die gemiddelde hengelaar sou nooit daaraan dink om die naweek te gaan visvang nie, maar die kompeterende hengelaars het nie juis ‘n keuse nie. Ek is al die afgelope veertien jaar die hooforganiseerder van ‘n maandelikse swartbaarhengeltoernooi en het nie eintlik ‘n ander keuse as om langs die water te moet wees nie.

Swartbaars (en hengelaars) se reaksie en gedrag op koue fronte is redelik voorspelbaar, maar groot was my verbasing toe al die (brawe) deelnemers by die inweegstasie opdaag om vis te weeg.

Nog voordat ons bewus is van enige koue front wat oppad is, begin die swartbaars aktief raak en voorsien vir die paar koue dae wat voorlê. Terwyl die front, dit wil sê die wind, wolke en reën om ons is, is dit ‘n goeie idee om langs die water te wees met aas wat redelik vinnig beweeg. Omrede daar wind is, sal spinnerbaits my eerste keuse wees. ‘n Harde ruk-en-pluk plastiese vissie (‘n jerkbait) kan ook goed werk. In sulke weer moet die hengelaar die area teiken waarteen die wind vaswaai, want dit is waar die aksie is. Die golwe spoel kos los, sit suurstof in die water, klein vissies is verward en die roofvisse patroleer die area. Die golfbewegings gaan die visse ook meer op hulle gemak hê en hulle kan jou nie so maklik sien nie. In elk geval dink hulle nou net aan kos.

Wanneer die koue front verby is, val die temperature en is dit die skielike veranderinge in watertemperatuur wat die visse se bekke laat toeslaan. Die lug is wolkloos en die water kalm.

Net soos ons sal die vis nie lus wees om baie aktief te wees nie, maar eerder die snoesigheid van watergras, stabiele dieper water en skadukolle opsoek. Die visse het reserwes opgebou en het dus ook nie ‘n eetlus nie, maar niks keer hulle om ‘n happie te vat van ietsie wat te gerieflik naby verbykom nie.

Vir die hengelaar beteken dit hy sal baie, baie stadig met ligte lyn, klein kunsasies en in dieper water moet hengel. Die vis gaan daar binne die strukture lê – die hengelwinkels noem dit die ‘silent salesman’- want dit is daai goed wat maak dat jy jou kunsaas verloor en moet teruggaan winkels toe vir nog. In sulke toestande sal ek loodkoppe, maar spesifiek jigs, gebruik. My tweede stok sal definitief gelaai wees met ‘n sagte plastiekwurm aan ‘n Texas-strop wat ook baie effektief is in die wegkruipplekke. Die geheim is om die lyn heeltyd styf te hou sodat enige bytsein gevoel kan word, want die vis gaan baie skelm byt – dit gaan eerder voel of jou aas vassit.

Volgende week kyk ons na nog ‘n belangrike faktor wat swartbaarhengel kan beïnvloed.

Wenk van die week:

Indien jy ooit twyfel oor ‘n bytsein, kap eerder vas (dit kos niks) voordat jy jouself wil skop oor die vis wat weggekom het. Vra my.

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

 

KATROLKOORS: Visse moet ook asemhaal

KATROLKOORS: die regte aas, maar hulle byt nie?

KATROLKKORS: Die regte kunsaas vir swartbaars

KATROLKOORS: Regte metode vir ‘catch and release’

KATROLKOORS: Hê respek vir jou visvangomgewing

KATROLKOORS: Die beste lyn om te gebruik vir swartbaars

KATROLKOORS: Leer meer oor die beste katrol vir swartbaars

KATROLKOORS: Swartbaarhengel regdeur die jaar

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button