
“DAARDIE hond (Soetlief) is soos my kind. Sy het twee weke gelede ‘n werpsel van 10 kleintjies gehad. Die veearts sê hulle moet ook vankant gemaak word. Ons sal daardie brug oorsteek as ons daarby kom,” verklaar Appie Viviers.
Appie, ‘n boer van die plaas Boeteka so 25 km buite Beaufort-Wes, se vrou het maltakoors by hul bokke gekry. Die koors is ook by ‘n plaaswerker, Marius Pettinger, en die boer se Rhodesiese-rifrughond, Soetlief, gediagnoseer.
Die plaaswerker en sy vrou sterk aan maar wat Appie hard slaan is dat veeartse sy geliefde hond, Soetlief, van kant wil laat maak.
Appie het inderdaad ‘n “groot brug” om oor te steek. Sy plaas is sedert die uitbreek van die plaag onder kwarantyn. Finale toetse word nou op die plaas gedoen om te bepaal watter soort brucelose die diere het. Altesame 935 bokke is onder kwarantyn geplaas en 120 is al uitgeslag.
“Die plaas staan heeltemal stil. Ek kan nie die bokke skuif en kan hulle nie verkoop nie. Ek is bekommerd oor my kontantvloei. Plaas jouself in my skoene” sê Viviers verder.
“Hulle wil hê ek moet al die bokke uitslag en die vleis vir my vat. Wat moet ek met 100 bokke se vleis maak? Niemand sal dit by my koop as ‘n mens maltakoors in dieselfde sin gebruik nie. Ek sukkel steeds om van my beeskalwers te verkoop oor die stigma dat daar maltakoors op my plaas is.”
Ten spyte van al Appie se teëspoede is dit sy liefde vir Soetlief, wat jou aangryp. Te midde van soveel druk op hom sou niemand hom kwalik neem as hy maar van Soetlief ook ontslae geraak het nie.
Sy kan later ‘n ondraaglike las word as draer van die aansteeklike maltakoors. Hy maak dit egter duidelik dat hy nooit sy “kind” van kant sal maak nie, punt.
Dalk het jy ook ‘n “Soetlief” in jou lewe? Iemand wie vir jou kosbaar is…iemand wie jy “aan die lewe hou”, dalk ondanks baie druk waaronder jyself verkeer weens gesondheids- of finansiële probleme.
Dit kan ‘n geliefde wees met ‘n terminale-siekte, ‘n liggaamgestremde persoon, of ‘n familielid of lewensmaat met Alzheimers.
Daar is instellings wat moontlik die sorg van jou skouers kan afneem maar as gevolg van die hegte band tussen jou en jou “Soetlief” kan jy eenmaal nie die persoon “laat gaan nie”. Jy wil hom of haar versorg tot die dood julle skei…
Alhoewel buitestaanders dit dalk nie sal verstaan nie, verstaan Jesus tog. Hy verstaan daar is sekere mense in ons lewenswêreld waarvoor ons alles sal opoffer; selfs ons lewens, indien nodig.
Hy het ook Sy lewe opgeoffer vir dié wat vir Hom kosbaar was. Die Skrif verklaar: “Omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe” (Joh 13:1) Sy liefde blink veral uit aan die kruis. Hy het geweier om enigiemand te “laat gaan”.
Hou vas aan jou “Soetlief” solank jy dit kan hanteer.
Wanneer jy wel by daai “brug” kom wat jy hieroor moet oorsteek, sal God jou lei oor wat om te doen… (www.dsgielie.net)

