
Soos vroeër genoem is daar net twee en ‘n halwe gedagtes wat deur ‘n swartbaar se kop gaan. Een is om te vreet en die ander is om te rus (skuiling).
Ons betree nou daardie kort tydjie van die jaar wat swartbaars net ‘n halwe ding op die brein het, naamlik voortplanting. Dan steur die visse hulle nie meer veel aan kos en rus nie. Dit is ook die tydperk van die jaar wat hengelaars se humeure opvlam en sommige hengelaars geneig is om reg in eie hande te neem. Hoekom?
Sodra die watertemperatuur konstant 18ºC bereik, is daar ‘n natuurlike skakelaar wat in die vissie se kop aanskakel en vir hulle vertel – dis nou die tyd! Die kleiner mannetjies swem na vlak water waar hulle met hul sterte neste gaan skrop in die vorm van ‘n groot piering. Hulle sterte word aan flarde geskaaf en die bloed vloei letterlik. Hulle is so gefokus om die nes reg te kry dat hulle nie nou veel aandag gee aan vreet nie.
Die groot dik tannies, vol eiers, lê nie ver weg in die diep water en wag vir die volgende volmaan. (Praat van met die maan gepla.) Sodra dit volmaan is swem hulle vlakwater toe, soek ‘n gepaste nes uit en lê eiers. Vir elke kilogram van die wyfie se eie gewig kan sy tussen 4 400 en 15 000 eiers lê. Dit klink vreeslik baie, maar wanneer in gedagte gehou word dat net 5% daarvan die eerste jaar sal oorleef en uiteindelik net elf uit 4 400 volwassenheid bereik, is dit glad nie baie nie. (Daarna kom die mens met sy regulasies, wetgewing, besoedeling, en vrot Sjinese nette en stroop die damme van al wat leef en beef).
Wanneer die eiertjies gelê is, sal die mannetjie die eiers dadelik bevrug en die nes oppas totdat die eiertjies uitgebroei het en die klein vissies ongeveer 3 cm groot is. Teen dié tyd is hy so vrek honger dat hy sommer sy eie kleintjies begin vreet. Maar in die tydperk wat hy nog die goeie ou vadertjie is, beskerm hy die nes met sy lewe en sal hy enige bedreiging fisies verwyder. Dit is in hierdie tydperk dat hengelaars die mannetjies op die neste teiken en hulle maklik vang. Indien die mannetjie dadelik teruggegooi word, is dit geen probleem nie, maar die probleem ontstaan wanneer onetiese hengelaars – die mense met geen respek vir niks, niemand en ook nie vir hulself nie – die visse stroop. Die visse word gevang, verwyder en die hele broeisel is daarmee heen, want sodra die mannetjie uit die nes is, storm alles en almal en plunder die nes. (Iets soortgelyks soos wat ons onlangs gesien het met die xenofobiese aanvalle op buitelanders).
Dit is dan dié tyd waar die hengelaars mekaar wil aanvat, want daar is die wat omgee oor die behoud van die sport en ander wat voel – skep as dit pap reën.
Vir ons as passievolle swartbaar-hengelaars is die tragedie dat slegs 11 uit 4 400 visse oorleef, waarvan net ‘n paar uiteindelik trofee-grootte bereik. Die res gaan almal verlore in die voedselketting. G’n wonder swartbaarhengelaars is so geheimsinnig gedurende die broeiseisoen nie.
Gedagte van die week:
Hoe jy optree wanneer jy alleen is en jy dink niemand jou sien nie… dit is wie jy werklik is.
Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.
