BlogsOpinion

KATROLKOORS: Kreatiwiteit op steroïede langs die viswaters

SA BASS bied elke skoolvakansie die Bassin' Kids Avontuurkampe aan waar kinders tussen die ouderdom van 7 tot 16 jaar vir 'n week lank besig gehou word met allerhande pretaktiwiteite waarvan een visvang is.

SA BASS bied elke skoolvakansie die Bassin’ Kids Avontuurkampe aan waar kinders tussen die ouderdom van 7 tot 16 jaar vir ‘n week lank besig gehou word met allerhande pretaktiwiteite waarvan een visvang is.

Voor ons die dam toesak word die kinders die basiese beginsels van swartbaarhengel geleer. Dit behels die maak van knope, hoe om die aas aan die hoek te sit, die ingooi van aas, die inbring daarvan en hoe om ‘n vis te land. Tog is dit keer op keer verstommend om die vindingrykheid van onoplettende hengelaars te aanskou…

Die aas word op die vreemdste moontlike maniere aan die hoek geryg; gewigte word aan goed geheg wat veronderstel is om te dryf; en dit wat moet sink, word met dobbertjies bongehou…kreatiwiteit op steroïedes!

Die swartbaar is geskape met wonderlike sintuie en daar is niks fout met hulle oë nie. Om ‘n ding in die water te gooi wat tol soos ‘n duikboot buite beheer is ongewoon. Dit sal beslis die vis se aandag trek, maar ek betwyfel of enige vis met ‘n goeie selfbeeld daaraan gaan byt. Hoeveel keer sien hengelaars hoe die vis die aas agtervolg, maar net nie wil vat nie. Iets sit hulle af. Daarom moet die aas so natuurlik moontlik aangebied word.

Om dit reg te kry word sagte plastiese kunsaas as volg aan die hoek gesit (die beginsel bly dieselfde ongeag watter tipe aas):

Stap 1: Ryg die vislyn deur ‘n sinker (indien nodig) en gebruik die Palomar-knoop om ‘n wurmhoek aan te sit.

Stap 2: Druk die hoek se punt omtrent 10 mm by die aas se kopkant in en laat die hoek aan die kant van die aas uitkom.

Stap 3: Skuif die aas teen die vislyn op totdat die hoek se oog in die aas verdwyn. Draai die hoek 180º (‘n halwe draai) sodat die hoek se punt teen die aas lê.

Stap 4: Trek ‘n denkbeeldige lyn deur die aas waar die hoek terug buig en merk die plek met jou duimnael.

Stap 5: Druk die hoek se punt by jou duimnael deur die aas, aan die anderkant uit en maak seker die aas lê reguit. Die aas moenie opkrul soos ‘n erdwurm nie – dit

sal veroorsaak dat dit tol, die vislyn oprol en die lyn koek en afgesny moet word.

Stap 6: Druk die hoekpunt liggies onder die aas se “vel” in om die aas vashaakloos te maak.

Elke keer wanneer die aas ingebring word, moet seker gemaak word die aas sit nog reg op die hoek. As kinders meer wil leer, is hulle welkom om volgende week by ons Bassin’ Kids Avontuurkamp aan te sluit.

Wenk van die week:

Indien die vis jou aas verskeur het, kan die aas weer aanmekaargesmelt word. Maak ‘n draadjie warm en gebruik dit soos ‘n soldeerbout. Wees egter versigtig: die gesmelte plastiek brand vreeslik seer.

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button