BlogsOpinion

‘n Hond is altyd onvoorwaardelik lief vir jou

VAT VYF: Daar is ‘n ou bekende liedjie van die legendariese ‘oom’ Chris Blignaut wat lui ‘…die donkie is ‘n wonderlike ding…’ maar ek wil eerder beweer ‘…die hond is ‘n wonderlike ding…’

Daar is ‘n ou bekende liedjie van die legendariese ‘oom’ Chris Blignaut wat lui ‘…die donkie is ‘n wonderlike ding…’ maar ek wil eerder beweer ‘…die hond is ‘n wonderlike ding…’
Luister na hierdie storie en besluit self.
Op 14 Oktober, ongeveer 06:15, was ‘n sekuriteitsvoertuig in ‘n ongeluk betrokke tussen Dominionville en Hartebeesfontein.
Die bakkie het ‘n hondesleepwaentjie getrek met ‘n sekuriteitshond genaamd Kiba, ‘n swart Rottweiler-teef, agter in. Tydens die ongeluk het die bakkie gerol en natuurlik ook die sleepwa met Kiba in.
Die bestuurder het erge harsingskudding opgedoen en moes gehospitaliseer word. Die sleepwaentjie het tydens die ongeluk oopgegaan en die sekuriteitshond was skoonveld.
Die area is breedvoerig gefynkam maar Kiba was nêrens te vinde nie en die ergste is verwag.
Helaas omstreeks 13:00 word Kiba gevind waar sy die vorige aand saam met haar hanteerder wag gestaan het, ongeveer 5 km vanaf die ongelukstoneel.
Sy het tot by die D2 skag se ingang gehardloop en daar voor die hek gaan sit en wag op haar baas. Sy was ongedeerd.
Voorwaar, honde is wonderlike kreature. Hulle vermoë om altyd die beste te glo van hulle eienaars en tot die dood toe getrou te bly aan (dikwels) wrede base is alom bekend.
Jy kan hul maar hoé sleg behandel, hul sal altyd hul stert waai as hul jou sien en dieselfde hand kom lek wat hul netnou geslaan het.
So het ons ook almal mense in ons lewens wat ons liefhet ‘ten spyte van’.
Dit mag dalk ouers, groot ouers of vriende wees vir wie ons teleurgestel het en sleg behandel het wat maar altyd daar is om ons by te staan in nood; mense wat nogsteeds in ons glo en ons tweede kanse gee wat ons nie verdien nie.
Jesus is ook so iemand. Vir ‘n vrou wat diep in sonde geval het, het hy gese: ‘Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.’ (Joh 8;11) asof Hy wou sê: ‘By die mense het jy nou jou kanse opgebruik maar nie by My nie, gaan probeer nog ‘n keer’.
Kiba het teruggegaan na die plek waar sy laas haar baas se teenwoordigheid geniet het. Kom ons gaan terug na waar ons laas Jesus se hand gelos het en probeer nog ‘n keer.
Hy wag alreeds daar vir ons.
www.dsgielie.net

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button