POLOKWANE – Kinderterapet en geintegreerde leer praktisyn, Annamarie de Villiers, vertel waarom dit belangrik is vir kinders om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem.
“Deelname aan sport onwikkel fiksheid, konsentrasievermoë, deursettingsvermoë, moed en durf, probleem-oplossing, spierontwikkeling, hand-oog-koôrdinasie, dissipline, balans, stamina en kompetisie in kinders. Hulle leer ook om saam te werk in ‘n span.”
Sy vertel elke kind is egter uniek en dit is belangrik dat ouers hul individuele kind se temperament en natuurlike talente of vermoëns in ag neem by die keuse van ‘n sport of buitemuurse aktiwiteit.
“Te dikwels in ons skole word kinders gedruk om deel te neem aan sportsoorte waarin hy of sy bestem is om onsuksesvol te wees. Daar word dikwels in ons opvoedkundige-sisteem verwag dat elke kind se waarde bepaal word deur prestasie in ‘n spesifieke toets, of in ‘n spesifieke sport. Dis tog onmoontlik vir die pikkewyn, vis, olifant, rob en hond om die boom te klim, maar gee vir die vis en pikkewyn water om in te swem dan blink hulle weer uit.”
De Villiers vertel nie alle kinders het die geskikte temperament vir spansport het nie. Vir ‘n kind wat ‘n introvert is en ‘n kunssinnige temperament het mag solo sportsoorte soos perdry, kayaking, muurklim of swem meer in sy of haar kraal wees.
“Vir ‘n kind om al die ontwikkelingsvoordele te trek uit ‘n aktiwiteit moet hy of sy dit in die eerste plek geniet en wil doen. Neem liewers tyd om jou kind te leer ken en die regte sport of aktiwiteit vir hom of haar te vind. Dit mag ‘n proses behels van ‘n paar sportsoorte uitprobeer en deel te neem vir ‘n paar keer.”
Wanneer sport of aktiwiteite gepaardgaan met oormatige druk om te presteer, wanneer dit belangriker word as karakterontwikkeling, wanneer dit uitsluiting van ander behels omdat hulle nie presteer in die sport (boelie-gedrag) nie en gepaardgaan met modellering van kru taal en swak gedrag van ouers, is die deelname net tot nadeel van die kind se ontwikkeling, sê sy.
“Met die ontploffing in tegnologiese-ontwikkeling moet kinders egter meer aangemoedig word om te beweeg en nie al hul vrye tyd voor skerms deurbring nie.
“Die beste manier wat ouers hul kinders aktief kan aanmoedig is deur hul eie voorbeeld. Ouers wat ‘n voorbeeld stel van self aktief wees, byvoorbeeld om eerder te kies om te gaan draf of muurbal te speel as om voor die TV te lê, moedig aktiewe gedrag by kinders aan. Dit gaan dus oor die waardes en prioriteite wat ouers onbewustelik kommunikeer aan hulle kinders.”
De Villiers vertel al hoe meer kinders ly deesdae aan leerprobleme en daar is ‘n direkte verband tussen die voorkoms van leerprobleme en ‘n gebrek aan beweging. ‘n Leefstyl van aktief wees en deelneem aan ouderdomsvanpaste sport van ‘n vroeë ouderdom kan help om leerprobleme te voorkom.
Vir hulp met leerprobleme kontak De Villiers by annamarie.devilliers@gmail.com en vir meer inligting gaan na www.ilt.co.za.

