BlogsOpinion

‘n Moeder se smart

Toe Joseph my aan die linkerskouer tik, het ek vinnig omgekyk

Bosveldpraatjies…. Sybie Kleynhans

Toe Joseph my aan die linkerskouer tik, het ek vinnig omgekyk. Hy het met sy kop na links beduie, en ek het gekyk. Sy was so 100-meter weg van ons af met haar rug na ons gedraai, amper by die walle van die Cubangorivier. Ek het my regterhand uitgesteek, die .500 by Moos gevat, en die ou Sanna met die linkerhand vir hom aangegee. Ek het die lope oopgeklap, seker gemaak dit was vol.

Die ligte windjie het gunstig in ons guns gewaai, en dus kon ons nader beweeg. Van sò skuins agter, het hierdie na ‘n jong olifantkoei gelyk. Sy het aan iets op die grond met haar slurp getas, toe met die regtervoet so voel-voel na die voorwerp gestoot. Ek kon nie mooi sien wat die donker bondel voor haar was nie. Toe het sy haar slurp gewysvinger na bo en ‘n sagte, hees trompetter uitgestoot.

Ek het my seker verbeel, maar daar was vir my ‘n hartseer noot in daardie skril geluid. Daar was ‘n beweging links van ons, en nog drie ander olifantkoeie het tussen die palms verskyn en vasgesteek. Die grootste van die drie het haar slurp gelig, en ‘n sagte geluid uitgestuur. Die een voor ons het haar slurp weer na die bondel uitgestoot, en toe stadig in die rigting van die ander koeie gestap. Eenkeer het sy vasgesteek, die slurp gelig, en na die bondel gekyk. Daarna het die vier olifante tussen die makalanis verdwyn.

Ek het sag my asem uitgeblaas, en in die rigting van die bondel begin loop. Dit was, soos ek vermoed het, ‘n dooie olifantkalfie. Ek is nie so goed bekend met hulle nie, en het geen idée hoe oud die kalfie was nie, maar ek was nuuskierig om te sien hoe dit gebeur het.

Ek het die .500 vir Moos gegee, en vorentoe gestap. Sonder om Sanna weer te vat, het ek net gaan hurk by die karkas. Toe sis Joseph, hard en benoud. Ek het opgekyk, en alles in my het ophou beweeg, ek dink my hart ook.

Ek was onbewus dat die windjie gedraai het, weg van ons af. Die koei het geruisloos deur die sand in my rigting beweeg. Toe ek opkyk, was sy so 20 tree van my af. Ek het slegs my Jaguar jagmes by my gehad, en agter my het die geweerslotte van Joseph en Moos se wapens geklap. Maar ek weet … al sou hulle sekuur skiet … sal daai slurp my vang, òf daardie groot lyf my vergruis.

Ek het altyd geglo ek sal in die jagveld my paadjie sou gaan, maar nie deur iets wat ek nooit wou of sou jag nie. Snaaks … ek het gedink my paadjie gaan nog ‘n ent loop. Tob ek het geweet ek gaan in die sand van die Okavango sterf …

Die koei het stadig so twee-drie tree nader gestap. Die slurp het soekend gelig, nie hoog nie, net asof sy die vrees wou toets. Dit het stadig weer gesak, en skielik het ek gesien die regterwang van die koei was nat. In die swartoog het ‘n groot traandruppel stadig afgerol. Ek kon nie die linkeroog sien nie, want sy was half skuins gedraai, maar in daardie regteroog was daar geen haat nie, net hartseer. Toe het sy omgedraai, en stadig tussen die palms verdwyn.

Ek het weerloos en stukkend orent gekom, na my broek gekyk. Dit was nog droog, maar ek het gevoel my wange is nat.

As ek nou terug dink, dan glo ek die hele Okavango het saam met daardie moeder daardie gehuil. Ek het dit gedoen, en ek doen dit vandag weer, want ‘n moeder se smart, is almal se smart.

Hierdie is ‘n uittreksel uit Kleynhans se boek, Madefu se Wêreld. Lesers kan die boek, asook sy ander boek, Thola, by Honey Ball in Hoogestraat koop of hom kontak by 072 592 8057.

 

 

 

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button