Ek se altyd: “Only the good die young.” Maar nou wil ek byvoeg: “Net die taaies bly oor.
Toe my ouma haar woonstel moes opgee, het sy gereeld gesug: “ . . . en brengen waar gij niet wil wees.” Dis mos ‘n aanhaling van Paulus oor die ouderdom. Dis ‘n tyd wanneer jy dikwels oorgelewer word aan ander se genade. Soveel mense het al ouderdom vergelyk met ‘n mens se kinderjare. ‘n Ou mens is soms so weerloos soos ‘n kind. Albei moet versorg word. Maar net soos kinders, kan oumense vir party mense ‘n irritasie wees.
Oumense is stadig, vergeetagtig en hulle verstaan nie veel van die moderne lewe af nie. Hulle vertel dieselfde stories oor en oor en vra dieselfde vrae oor en oor.
Wat jong mense vergeet, is dat hulle al ‘n leeftyd agter hulle het, dat hulle hul bydrae tot die samelewing gemaak het. Hulle het drome gehad, hard gewerk, kinders grootgemaak, kinders opgevoed, skole gebou, mielies geplant, ‘n nasie gebou, oorloe gewen en verloor, lief gehad en gely.
Ek het vanoggend op hierdie afgekom:
“Geseend is hulle wat altyd verstaan,
As ek bewend moet tas of struikelend gaan
Wat weet dat my ore met moeite kan hoor,
Dat ek maklik die draad van die storie verloor.
Geseend is hulle wat self sommer weet
Dat my oe al swak is en ek maklik vergeet.
Geseend is hulle wat kastig nie sien
Dat ek koffie gemors het toe hulle my bedien.
Geseend wie lus het om rustig te wag
Terwyl ek vertel van my eensame dag;
Wat nooit sal verwyt of humeur sal verloor
Al vertel ek dieselfde ou storie weer oor.
Geseend wie ook deur die newels kan dring
Om gisters weer helder na vore te bring.
Geseend, as hulle my op my ou dag laat voel,
Dat hulle liefde en agting opreg word bedoel,
Wat verstaan as my kragte my weifelend laat vra:
“Hoekom is my kruis soms so swaar om te dra?”
Wat die las help verlif met hul liefde vir my
Op die skof wat my eindelik Huis toe sal lei.”
Die ouderdom wag vir ons almal. Vir party is dit nader as vir ander. Wanneer jy ‘n ou mens tee kom, onthou dit: jy sal ook van iemand se genade afhanklik wees.
