BlogsOpinion

Op met die Bokke en af met fooie

Ek wil eintlik glad nie hieroor skryf nie.

Ek wil nie praat oor hoe ons nasionale span skynbaar nooit sedert hulle nederlaag teen die Japanese bloeisels hulle ewewig herwin het nie. Ek wil liewer niks se oor my broer, wat ‘n Stormer sy hele lewe lank was, net so voel oor die Bok-breier as ek nie. Om nie eens te praat van die hoop wat soos die Olimpiese vlam in my ontbrand het toe ek hoor wie almal in die span is nie, net om weer week na week te verflou toe sterre gedwing word om buite hulle spelpatrone te speel. Die hoop beskaam dalk nie, maar soms word dit flou soos ‘n kort kersie op ‘n winderige stoep: hy flikker-flikker net so nou en dan en los groot vet trane op die blaker oral om hom.

Ek wil ook glad nie skryf oor my land se universiteite wat brand nie. My ouma moes noodgedwonge na st 6 (Gr 8 vir almal uit hierdie eeu) uit die skool om te gaan werk. Sy was op die ou end ‘n verpleegster. Al twee my oupas was nie ver boekgeleerd nie, maar wyse manne wat nou nog ‘n invloed op my lewe het. My pa het self jare gewerk om sy studie-lening af te betaal. Ek was gelukkiger. In my tyd was daar meriete-bonusse vir die wat hard leer. Ek moes maar my graad los leer.

In al hierdie tye, het nie een van ons ooit geglo tersiere opleiding is ‘n reg nie. Dit was nog altyd in ons huise gesien as ‘n voorreg. Daarom het ek kort na my kinders se geboorte studie-polisse uitgeneem wat ek met na-uurse werkies betaal het.

Ek stem wel saam dat universiteitsgelde belaglik duur is, veral as mens in ag neem dat daar by sommige instansies ‘n daling in die standaard was.Ek se ook maar niks oor die feit dat my oudste se studie-polis nie eens genoeg was om sy twee sussies se skoolgeld vir ‘n jaar te betaal nie. Omdat ek nie die tradisionele universiteit kon bekostig nie, het ons vir hom alternatiewe opsies gesoek, en gekry.Hy studeer steeds aan ‘n universiteit, vir ‘n graad, met ‘n hoe standaard en baie individuele aandag teen halfte van die kostes, o ja, en geen stakings nie. Seker omdat studente wat daar is, hulle studies as ‘n voorreg beskou, nie ‘n reg nie.

Wat sal ‘n graad werd wees as ekleen van ons een het? Tersiere onderrig is juis so ontwikkel dat die boonste gedeelte van leerders kan aanbeweeg. Grade is net vir slim kinders. Ek voel ernstig daaroor dat alle slim kinders die kans moet kry om hulle volle potensiaal te ontwikkel, maar slim kinders is nie rampokkers en niksnutte nie.

As ek dink aan die ontsag en verwondering waarmee ek die kennis ingedrink het, hoe opgewonde ek was oor die kennis en wysheid wat in die gange rondgehang het, oor proffies wat vriendelik en verstrooid hulle bes moes doen met lawwe studente, aan ser-aande en intervarsity, dan ween my binneste as ek nuus kyk.

Dis hoekom ek glad nie vandag wou skryf oor varsities of bokke nie . . .

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button