BlogsOpinion

Klein jakkalsies en brullende leeus

Daar’s party mense wat nie in die duiwel glo nie. Ek is nie een van hulle nie.

Nou praat ek nie van allerhande bonatuurlike bose kragte wat in animasie-vorm tot ‘n aantreklike ou met ‘n Engelse aksent aan ons op TV voorgedoen word nie. Ek praat van die goeie ou duiwel, wat soos die Bybel se, hier op aarde rondloop soos ‘n brullende leeu.

Hierdie week, dink ek, is hy veel eerder ‘n grinnikende hiena, want hy het sy plesier met my gehad.

Ek sukkel Saterdag met ‘n hekelpatroon (ek moet 11 geskenkies teen die einde van die week hê) wat ek nêrens kry nie en nie mooi kan onthou nie. Hekel, trek los, hekel, trek los. Eindelik, net voor die Engelse die laaste drie druk, kry ek hom reg, net om Sondagoggend te sien: Kat het hom van die kas afgetrek, om die tafelpoot gehak en losgekoek. Nodeloos om te se, niemand kry meer gehekelde geskenkies nie.

Ek het vandag ‘n baie belangrike vergadering waar ‘n jaar se verslae en dokumentasie ingedien moet word. Een spesifieke dokument ontvang ons in sy oorspronklike vorm (glad nie elektronies nie), waarop ons dan met die hand veranderings moet aanbring (nugter weet hoekom) en dan inhandig. Ek het noukeurig alles laat aanbring in die korrekte kleur pen deur my dierbare vriendin met die skoonskrif-talent. Vir meer as ‘n maand lank bewaar ek dit soos ‘n kleinood, net om eergister agter te kom dis nie meer daar waar ek gedink het dit is nie. Om die waarheid te se, dis nêrens waar ek gesoek het nie. Die enigste persoon wat my dalk kan help, is ook nie vandag op kantoor nie, omdat sy al die ander se mooi ingevulde vorms kom oplaai. My skandes sal nie eens bedek bly nie: oopgevlek in al sy skarlaken-glorie.

Intussen het ek ‘n goeie vriendin se verjaarsdag vergeet, al vier kilo’s wat ek so hard aan verloor het, weer opgetel, die hek gesluit toe ek hom vir manlief moes ooplos, ‘n kontantvloeiprobleem wat skrik vir niks, werk wat nie klaar kom nie, ‘n pakkie wat nie arriveer nie en mense wat my geld skuld en dit natuurlik ook nie nou het nie.

Eintlik dink ek die duiwel en my beskermengel lê onder ‘n maroelaboom en lag dat die trane so spat. Ja, die engel ook, want sekerlik moet ek ‘n les uit my ellendes uit leer. Ja, ja, pak jou studeerkamer reg. dit help nie net om elke keer die een hoop op ‘n ander plek te stapel in die soektog na alles en nog wat nie.

Dalk moet ek die Lotto speel, maar kan jy dink hoeveel plesier dit die twee sal gee?

Vanmore soek ek net na klein donker gaatjie of dalk ‘n grote om in te kruip tot die geluid van die gelag bedaar. Ten minste maak die klein jakkalsies wat die wingerd verniel nie soveel lawaai nie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button