Swemmer skrik nie vir ‘n boog
Bernard Mentz (10) het begin swem toe hy net vier jaar oud was, aanvanklik net om waterveilig te wees.
POLOKWANE – Bernard Mentz (10) het begin swem toe hy net vier jaar oud was, aanvanklik net om waterveilig te wees.
“Swem is harde oefening, maar ek het baie goeie maats gemaak deur die sport,” vertel hy.
Bernard het tydens die afgelope Limpopo-swemkampioenskappe as junior Victor Ludorum uit die stryd getree.
“Dit is vir my een van my grootste swemprestasies,” sê die seun wat vyf dae ‘n week, elke dag ‘n uur en ‘n half lank oefen.
“Ons oefen regdeur die jaar, maar kry twee weke af in Desember,” verduidelik hy.
Hy het ook hierdie jaar ‘n vyfde plek by die Suid-Afrikaanse swemkampioenskappe behaal in sy 50m borsslag-item. “Ek wil graag eendag vir Suid-Afrika swem,” sê Bernard.
Swem is nie die enigste sport waarin Bernard presteer nie. Hy neem ook deel in boogskiet en krieket.
“Ek het hierdie jaar by die South African National Indoor and Field Archery Association (SANIFAA) se Limpopo kampioenskappe deelgeneem,” vertel Bernard.
Tydens die kompetisie het hy ‘n eerste plek behaal in die vrystyl, onbeperkte afdeling vir o/13 skuts.
Bernard het ook by die SANIFAA nasionale kampioenskappe ‘n tweede plek behaal in dieselfde afdeling.
Krieket is ook na aan sy hart en hy het hierdie jaar vir Oosskool se o/10A-span gespeel. Hy het ook tydens die Super 12 kompetisie vir die skool se o/11-span gespeel.



