Op haar fiets voel sy tuis
Cherie Siebert, 'n inwoner van die stad, is 'n bekende gesig by fietswedrenne en het vele wenplekke op haar kerfstok.
POLOKWANE – Cherie Siebert, ‘n inwoner van die stad, is ‘n bekende gesig by fietswedrenne en het vele wenplekke op haar kerfstok.
Onlangs het sy die 70km Kremetart-fietswedren gewen.
Wat min mense weet is dat Siebert die Comrades Maraton al twee keer aangedurf het, die bekende Ironman-kompetisie ‘n paar keer voltooi het en ook die 94.7-fietsry-uitdaging en die Cape Argus aangepak het.
Die 27-jarige geoloog wat van Albertinia naby Mosselbaai in die Wes-Kaap kom, het op skool reeds in provinsiale en nasionale sportspanne gespeel en het onder andere doelwagter gespeel vir die nasionale o/16-hokkiespan. Sy het ook uitgeblink op die atletiekbaan.
Siebert versamel medaljes en het al ‘n hele paar op haar rak, maar fokus tans op fietsry en op driekamp.
Sy verduidelik dat sy nou die driekampseisoen binnegaan, “so ek trap nou nie verder as 40km op ‘n slag nie. Om nou langafstande te doen maak nie sin vir my voorbereiding vir die driekampseisoen nie,” vertel Siebert.
Sy sien uit na die Bela-Bela 5150-driekamp in Augustus.
“Ek het verlede jaar vyfde gekom. Dan dink mens: ‘wat kon ek anders doen om beter te vaar?’ Dit is letterlik ‘n paar minute wat die deelnemers van mekaar skei.”
“Dis definitief swem wat my probleem is,” vertel Siebert.
“Met die hardloop-deel is ek on par met van die beter atlete en tydens die fietsry haal ek maklik in. “Dis dis mees bevredigende deel van die driekampe vir my.
“Ek weet ek kan nie goed swem nie, maar dan haal ek hulle een vir een in met die fietsry en dink in my agterkop: ‘ja julle wil mos vir my wegswem’,” vertel sy laggend.
“Dit sit baie druk op my en ek moet letterlik die hele veld inhaal. Ek is altyd een van die heel laaste ouens wat uit die water kom.”
Elke atleet het hulle terugslae en Siebert is geen uitsondering nie. “Ek het in 2011 ook die Comrades gehardloop, maar nie klaargemaak nie.
“Ek het in dieselfde jaar ‘n Ironman aangepak, maar sonder ‘n duikpak, want dit was wat my ‘n eerste plek gekos het in die vorige Ironman. Toe dog ek kom ons los die duikpak, jy spaar tyd in transisie; min wetend dat die water agt grade was.
“Hulle moes my behandel vir hipotermie. Nou moet ek deur ‘n dokter ondersoek word elke keer voor ek wil deelneem of ek mag nie deelneem nie,” vertel sy.
“Ek probeer om met elke wedren om my vorige tye te verbeter.
“Hierdie jaar moet ek régtig trap in die 94.7. Ek het verlede jaar ‘n hele uur viniger klaargemaak as die vorige jaar en moet nou my tyd van twee uur 37 minute verbeter,” vertel sy.
Siebert oorweeg dit sterk om in 2015 van sport te verander.
“Ek was nog altyd iemand wat gehou het van ‘n wye verskeidenheid sportsoorte en ek verkies individuele sportsoorte. Ek het reeds ‘n gholfafrigter wat belangstel om my af te rig. “



