Sport

Vyfde sege vir Johan van der Merwe in Washie 100

Polokwane-langasemster, Johan van der Merwe is vir die vyfde keer die uitmergelende Washie 100 Miler-kampioen. Van der Merwe, wat ook die rekordhouer vir dié wedloop is, het die wenstreep in KwaZulu-Natal ongeveer ‘n uur en drie minute voor die naaswenner, Wandisile Nongodlwana, oorgesteek en in 2015 vir die vierde agtereenvolgende jaar die Washie 100 gewen, …

Polokwane-langasemster, Johan van der Merwe is vir die vyfde keer die uitmergelende Washie 100 Miler-kampioen.
Van der Merwe, wat ook die rekordhouer vir dié wedloop is, het die wenstreep in KwaZulu-Natal ongeveer ‘n uur en drie minute voor die naaswenner, Wandisile Nongodlwana, oorgesteek en in 2015 vir die vierde agtereenvolgende jaar die Washie 100 gewen, maar moes verlede jaar weens ‘n besering onttrek. Die wedloop is vanjaar is vir die 41ste keer aangebied met die roete wat van Port Alfred na Oos-London strek.
Dié ultramarathonpresteerder wou vanjaar nie weer die gewilde wedloop mis nie en het die 160 km (100 myl) met ‘n voetbesering aangedurf. “Toe die skoot klap het ‘n onbekende deelnemer teen ‘n vinnige pas begin hardloop. Ek het my nie aan hom gesteur nie omdat ek die ervaring het om te kan wen. Op die 36 km-merk het ek hom verbygesteek en daarna was dit ek en ‘n ander gunsteling wat sake moes uitspook, maar hy het onder my uitgehardloop. By die 50 km-merk het ek bekommerd geraak toe ek hom vir etlike kilometer nie kon sien nie,” sê Van der Merwe.
Hy het toe besef dat hy met sy seer voet sal moet aanstoot en het inligting ontvang dat die voorloper sowat 5 km voor hom is en sy pas versnel. “Ek het geweet dat my seer voet al is wat in my pad na ‘n oorwinning staan en het die voorloper op die
76 km-merk verbygesteek. Mank-mank het ek tot by die wenstreep deurgedruk. Die wedloop was baie takties en ‘n vinnige tyd was nie so belangrik as om as die 2017-kampioen gekroon te word nie.” Van der Merwe sê dit was ‘n moeiliker wedloop as vorige jare omdat dit baie warm met hoë humiditeit en wind van voor was.
Volgens hom moes hy nog nooit so hard vir ‘n eerste plek werk nie en ag dié oorwinning as een van sy beste prestasies en ‘n hoogtepunt van sy loopbaan. Sy tyd was 15:05.42.
Van der Merwe het vroeër vanjaar besluit om sy droom om meer as 1 000 km in ses dae te hardloop, na te streef wat hom genoop het om sy oefenprogram van 140 km per week na 240 km op te skuif.
Twee weke voor die Comrades Marathon het hy vir ? sesdag wedloop in Budapest, Hongarye aangetree waar hy op die eerste dag die voortou geneem en 210 km afgelê het, maar moes weens erge pyn in sy regtervoet onttrek.
Met sy terugkoms was hy gereed om sy 17de Comrades aan te durf. “My idee was om baie rustig te hardloop en die wedloop as voorbereiding vir die Washie 100 te benut. Ek het geweet my kop is sterk, maar was oor my fisieke toestand bekommerd. My tyd van 7:04 was goed genoeg vir ‘n silwermedalje.”
Die eerste naweek in Julie het Van der Merwe aan die 24 uur Wêreldkampioenskappe in Belfast, Ierland deelgeneem, maar moes handdoek ingooi nadat hy tydens die wedloop ‘n maagaandoening opgedoen en sy besering aan sy regtervoet ondraaglik geword het.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button