Skuts maak lope skoon ondanks reën
Die ligte reën wat Saterdag uitgesak het, het ‘n groepie skuts van die Suid-Afrikaanse Jag- en Sportfederasie nie van die plaaslike skietbaan weggehou nie en genoeg geleentheid gebied om die geweerlope skoon te maak. Die 13-jarige Hanske Putter het onder die wakende oog van sy pa, Jaco, en sy vriend, Bert Prinsloo, die eerste keer …

Die ligte reën wat Saterdag uitgesak het, het ‘n groepie skuts van die Suid-Afrikaanse Jag- en Sportfederasie nie van die plaaslike skietbaan weggehou nie en genoeg geleentheid gebied om die geweerlope skoon te maak.
Die 13-jarige Hanske Putter het onder die wakende oog van sy pa, Jaco, en sy vriend, Bert Prinsloo, die eerste keer met die skop van ‘n .308 Howa jaggeweer op die baan kennis gemaak. “Dit was ‘n aangename ondervinding. Ek sou graag my eie geweer wou aanskaf,” het hy gesê.
Klubwoordvoerder, Paul Grobler, sê 12 klublede het gekwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse Sportjagfederasie se nasionale kampioenskappe wat van 28 ot 30 April op ‘n plaas in Philippolis aangebied word, deel te neem. “Cobus Joubert, Riaan Hartslief, Pieter Jacobs en Taylor en James Steele kan elkeen drie diere uit ‘n keuse van springbokke, swart- en blouwildebeeste, waterbokke, gemsbokke, blesbokke en vlakvarke skiet,” sê Grobler.
Daar was ook geleentheid om op die boogskietbaan oor afstande van 20- tot 60 m na teikens aan te lê. Herman Ferreira het sy twee kinders, Ané (9) en Brian (6) hierin touwys gemaak.
Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com




