Opwindende ultrawedlope eersdaags in Polokwane
Verskeie internasionale, nasionale en plaaslike langasematlete is besig met intensiewe voorbereiding om op 14 en 15 April aanslae op nasionale- en wêreldkrekords in die 100 myl (161 km)- en 24 uur-ultrabaanwedlope te loods wat deur Polokwane Road Runners (PRR) by die ou Peter Mokabastadion aangebied word. Prestasiebonus van R100 000 ‘n Prestasiebonus van R100 000 …

Verskeie internasionale, nasionale en plaaslike langasematlete is besig met intensiewe voorbereiding om op 14 en 15 April aanslae op nasionale- en wêreldkrekords in die 100 myl (161 km)- en 24 uur-ultrabaanwedlope te loods wat deur Polokwane Road Runners (PRR) by die ou Peter Mokabastadion aangebied word.
Prestasiebonus van R100 000
‘n Prestasiebonus van R100 000 is vir ‘n manlike en vroulike atleet uitgeloof wat daarin kan slaag om die moordende 100 myl in onder 11 uur, 56 minute en 56 sekondes (vir mans) en 16 uur, 6 minute en 56 sekondes (vir vroue) af te lê. Hierdie reuse prestasiebonus word deur die plaaslike voertuigvlootbestuurfirma, Lamtrack geborg.
Die huidige nasionale rekords in die 100 myl vir mans en vroue is in 1972 en 1982 op seevlak in Durban onderskeidelik deur Derek Kay en Yvonne Sumner opgestel, terwyl die nasionale 24 uur-rekordafstande om ‘n baan aan plaaslike PRR-lid, Johan van der Merwe (258,063 km, Tapei, 2013), en Hazel Moller (190, 400 km, Pietermaritzburg, 2014) behoort.
Pietersburg Road Runners bevorder dié items
Die enigste ultra-afstandbaanwedloop sedert 1984 in Suid-Afrika is ook deur PRR op 31 Maart 2013 aangebied. Plaaslike klublid, Johan van der Merwe, het by daaardie geleentheid slegs 3,3 km gekort om die 24 uur mansrekord, wat reeds 59 jaar staande was, te verbeter.
Volgens Van der Merwe is daar verskeie redes waarom ultra-afstandbaansport afgeskeep word, maar PRR het besluit om aktief die item te bevorder om Suid-Afrikaanse atlete op gelyke voet met internasionale deelnemers te bring.
Die aanbieding van PRR op 14 en 15 April mag moontlik die opwindendste geleentheid van die aard in die geskiedenis van Suid-Afrika wees. “Ons het nie alleen daarin geslaag om ‘n diverse veld van nasionale atlete vir deelname te werf nie, maar kon ook daarin slaag om internasionele atlete, waaronder die bestaande wêreldrekordhouer in die 100 myl baanwedloop, Oleg Kharitonov, sowel as die opwindende jong Spaanse atleet in die 24-uurwedloop, Ivan Penalba Lopez, aangespoor om deel te neem. Kharitonov se verblyf in Polokwane van 12 tot 16 April word deur Polo Guest House geborg.
Publiek gevra om geleentheid te ondersteun
Wedlooporganiseerder, Colinda Potgieter, nooi die gemeenskap van Polokwane uit om die geskiedkundige aanbieding te ondersteun. Die hoogtepunt van die verrigtinge sal waarskynlik dié halfuur voor 21:00 op Saterdag, 14 April wees wanneer, indien alles volgens plan verloop, die wenner van die 100 myl sy wedloop sal voltooi.
Verskeie plaaslike langasems het ‘n goeie kans om verskeie rekords in die verskillende kategorieë te verbeter.
Beide die wedlope begin Saterdag, 14 April om 09:00.
Story: WILLIE ESTERHUYSEN
>>willie.e@mwebbiz.co.za





