Spanpoging verseker wenwaterpunt vir Polokwane Observer
Die entoesiastiese en vrolike groenspan van Polokwane Observer was Saterdag lank voor sonsopkoms reeds slaggereed om hul waterpunt op die Modjadjiskloofpad voor te berei met een doel voor oë: om aan al die behoeftes van atlete te voldoen en om aan die einde van die dag as beste waterpunt bekroon te word. Weke se beplanning …

Die entoesiastiese en vrolike groenspan van Polokwane Observer was Saterdag lank voor sonsopkoms reeds slaggereed om hul waterpunt op die Modjadjiskloofpad voor te berei met een doel voor oë: om aan al die behoeftes van atlete te voldoen en om aan die einde van die dag as beste waterpunt bekroon te word.
Weke se beplanning en ure se harde werk deur ‘n begeesterde span was die deurslaggewende faktor wat ‘n eerste plek as beste waterpunt verseker het.
Daar is entoesiasties reggestaan met ‘n verskeidenheid eetgoed vir energie, ‘n oormaat yskoue sakkies water en energiedrankies teen die versengende hitte en dan ‘n uitsonderlike gees ter aanmoediging van die massa atlete in verskillende kategorieë wat verbygestroom het.
Polokwane Observer se teenwoordigheid tydens groot wedlope in die stad wat dien as kwalifiserende uitdunne vir die jaarlikse Comrades-marathon, is al byna legendaries en bied gewoonlik geleenthede vir suksesvolle spanbou-aksies.
Saterdag was opnuut ‘n bewys dat Polokwane Observer se suksesresep in die trefkrag en toewyding van sy personeel lê.




