Sport

Jong fietsryer AJ Burger durf Sani2C aan

AJ Burger ry nog nie eers twee jaar kompe­terend bergfiets nie, maar is vasbeslote om vinnig naam te maak nadat hy onlangs gekeur is om van 10 tot 12 Mei aan die uitmergelende Sani2C in KwaZulu-Natal deel te neem al is hy nog net ‘n graad 9-leerder aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé. Deelnemers …

AJ Burger ry nog nie eers twee jaar kompe­terend bergfiets nie, maar is vasbeslote om vinnig naam te maak nadat hy onlangs gekeur is om van 10 tot 12 Mei aan die uitmergelende Sani2C in KwaZulu-Natal deel te neem al is hy nog net ‘n graad 9-leerder aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé.
Deelnemers moet 16 jaar of ouer wees, maar die 15-jarige AJ het die geleentheid gekry omdat hy op die wedrendag verjaar en kon bewys dat hy oor die stamina en fiks­heidsvlak beskik om 263 km oor drie dae te voltooi. Ter voorbereiding het hy vanjaar al sy fiets se speke oor meer as 500 km laat sing.
“Gedurende die skoolvakansie het ek dieselfde afstande waaruit die Sani2C bestaan, 82 km op die eerste en derde dag en 99 km op dag twee, in die Polokwane Wildreservaat gery en met my afstande en tye gekwalifiseer. Dit was lang ure op die fiets, maar ek het deurgedruk want dit is ‘n geleentheid wat nie elke dag na jou kant toe kom nie.”
“Volgens die onderwysers is ek waarskynlik die jongste Tommie wat nog ooit gekies is om aan dié uitdagende wedren deel te neem en ek sien baie uit, maar verwag ook dat dit nie maklik gaan wees nie. Die tweede dag ry ons oor die Drakensberge en ek dink ons gaan bloed sweet, maar dit bly die moeite werd omdat die opbrengs vir verskeie gemeen­skaps­projekte soos werkskepping aangewend word.”
Die Sani2C is vir die eerste keer in 2005 gehou en bied aan bergfietsentoesiaste ‘n veeleisende driedaagse roete wat die Sanipas en suidelike deel van die Drakensberg insluit tot by die warm Indiese Oseaan in Scottburgh. Deelnemers moet ook in pare deelneem en AJ neem saam met sy oom, Willie Burger, deel.
Hy is ook deel van die skool se fietsryspan wat verlede jaar ‘n vierde plek tydens die jaarlikse Lentetrap in die o.14-afdeling behaal het en het ook aan die Makhulu 5 deelgeneem. In die onlangse Munnik Meerkat het hy onder die toptien in die o.16-afdeling geëindig.
Volgens hom is ‘n goeie fietsryer iemand met dissipline wat elke geleentheid gebruik om te oefen. “Bergfiets is nie net vir opklim en ry nie – as jy wil presteer moet jy lang ure se harde werk insit. Skoolwerk neem ook baie van my tyd in beslag, maar naweke oefen ek soveel as moontlik.”
Hy werk boonop hard om Limpopokleure in die skoleliga te verwerf en droom daarvan om eendag die Cape Epic te ry wat ‘n reuse uitdaging is. “Bergfiets is nou deel van my lewe en ek wil graag na skool daarmee voortgaan. Alhoewel ek siviele ingenieurswese wil studeer, sal ek net so hard werk om eendag professioneel fiets te ry.”
Sy raad is om nooit moed op te gee nie. “Al word jou boude seer, druk deur want dit word beter. Al die spierpyne en moegheid sal eendag vrugte afwerp.”
Die Switserse bergfietsryer, Nino Schurter, wat al ses keer wêreldkampioen was, is sy rolmodel.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button