Bosveld SportSport

Glorie na 20 jaar!

NA bykans 20 jaar se sukkel om die Hansies se eerstes op hul tuisveld pak te gee, was dit vir Hoërskool Piet Pogieter (HPP) se eersterugbyspan, ouers en ondersteuners verlede Donderdag 'n soete oorwinning.

MOKOPANE – NA bykans 20 jaar se sukkel om die Hansies se eerstes op hul tuisveld pak te gee, was dit vir Hoërskool Piet Pogieter (HPP) se eersterugbyspan, ouers en ondersteuners verlede Donderdag ‘n soete oorwinning.

Die eindtelling van 15-13 in HPP se guns wys op ‘n tawwe titaniese en senutergende wedstryd met twee spanne wat mekaar kop-aan-kop opgekeil het tot die eindfluitjie geblaas het.

Vir die eerste keer in bykans 20 jaar is die Hansie-leeus op eie bodem geklop en daar was blydskap, trane, omhelsings en groot vreugde tussen spelers, ouers en afrigters.

Die Hansies is alombekend vir hul uitstekende rugby en vir Piet Pot was dit jare lank ‘n sielkundige stryd wat uiteindelik verbreek is.

Die wedstryd het afgeskop met 5-0 in die Hansies se guns. Daarna was dit naelbytoomblikke en ‘n telling van 10 elk.

Die Hansies klits ‘n strafskop tussen die pale deur en almal dink die skrif is aan die muur met ‘n telling van 13-10.

‘n Begeesterde HPP-span gooi egter nie handdoek in nie en die vinnige vleuel, Colin Steyn, duik oor vir die wendrie in die doodsnikke van die wedstryd.

Goeie sportman- en buurmanskap het deurgaans die botoon gevoer want hier in die Bosveld is rugby sinoniem met tradisie en die seuns word reeds van jongs af geskaaf en geskuur om eendag vir hul skool se eerstes uit te draf.

Jas Hansen, skoolhoof van HPP, sê dit was ‘n harde wedstryd en hy is trots op die span wat vanjaar onder die wakende oog van Douw Oosthuizen en Andries Botha oefen.

Alle eer aan die Hansies wat al vir soveel jare ‘n groot liefde vir die spel het en rugby bevorder.

Die wen na soveel jare was lekker en so ook om te sien hoe albei die skole se spelers na die tyd saam dankie sê.

Die uitslae van die verskeie wedstryde was as volg:

o/14: Piet Pot wen 43–8.

o/15: Piet Pot wen 7–3.

o/16: Hans Strijdom wen 43–12.

Tweedespan: Hans Strijdom wen 40–12.

Eerstespan: Piet Pot wen 15–13.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button