Kookwaterwen oor Vaalwater: 78-0
POTTIES Rugbyklub se eerste- en tweede rugbyspanne speel kookwaterrugby en die eerstes is steeds onoorwonne in die Waterbergliga nadat hulle verlede Vrydagaand met 'n oorwinning van 78-0 teen 'n span van Vaalwater geseëvier het.
MOKOPANE – POTTIES Rugbyklub se eerste- en tweede rugbyspanne speel kookwaterrugby en die eerstes is steeds onoorwonne in die Waterbergliga nadat hulle verlede Vrydagaand met ‘n oorwinning van 78-0 teen ‘n span van Vaalwater geseëvier het.
Die streeptruie het van die begin die wedstryd oorheers en daar is talle drieë gedruk. Kieron van der Merwe het met sewe doelskoppe geslaag en Hans du Plessis het een oorgeklits. Leslie Venton (voorspeler) en Corné Botha (agterspeler) is as die manne van die wedstryd aangewys.
Potties Rugbyklub se tweedespan het die span van Phagameng pakgegee. Die eindtelling was 52-0. Dit is die eerste keer in jare dat Potties ook ‘n tweedespan het en die spelers stel nie teleur nie. Vrydagaand kom die eerstespan te staan teen Thambazimbi en op 19 Mei word daar teen Northams gespeel. Die wedstryd teen Northams op Hoërskool Piet Potgieter se veld behoort vir groot opwinding te sorg. Potties en Northams het verlede jaar in die finaal van die liga sake uitgespook met Potties wat gekroon is as die kampioen. Hoewel die streeptruie bo aan die liga se punteleer is, is beide die spanne nog onoorwonne. Die spelers vra dat die inwoners die datum oophou om hulle te kom ondersteun. Hulle sê ook dankie aan Ocean Basket vir hul borgskap.




