HPP los ander in die stof
Die atlete van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) het verlede Saterdag gewys hulle is reg om weer die Bosveld Interhoër te wen toe hulle tydens 'n vriendskaplike byeenkoms afgereken het met Hoërskool Frikkie Meyer, Hoërskool Ellisras en Hoërskool Hans Strijdom.
MOKOPANE – Die atlete van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) het verlede Saterdag gewys hulle is reg om weer die Bosveld Interhoër te wen toe hulle tydens ‘n vriendskaplike byeenkoms afgereken het met Hoërskool Frikkie Meyer, Hoërskool Ellisras en Hoërskool Hans Strijdom.
HPP het op eie bodem die byeenkoms met 779 punte gewen met Frikkie Meyer van Thabazimbi as naaswenner (704 punte).
Ellisras was derde met 541 punte en die Hansies vierde met 346 punte. In die erge hitte het die atlete nie teleurgestel nie en ‘n uitstekende gees het op die baan, veld en pawiljoen geheers. Cas Badenhorst, waarnemende hoof, is trots op die atlete se puik prestasies en sê ‘n interhoër-driekuns is beslis binne die skool se bereik. Die Hansies nooi die hele gemeenskap om op 27 Februarie in groot getalle na Mookgophong op te trek vir interhoër-atletiek uit die boonste rakke.
Die HPP atlete wat rekords opgestel het, is:
• Lachelle de Beer, 300 m hekkies vir meisies o/14 met ‘n tyd van 51,87 s (ou rekord: 52 s).
• Wilma Nel, gewigstoot vir meisies o/14 met ‘n afstand van 11,81 m (ou rekord: 11,66m).
• Mirieck Griessel, gewigstoot vir meisies o/19 met ‘n afstand van 10,81 m (ou rekord: 10,10 m).
HPP se top 10 atlete van die byeenkoms is:
• CG Kruger – 110 m hekkies seuns o/16 (14,63 s), Marnus Uys – 100 m seuns o/19 (10,65 s), Johnty Darvall – 110 m hekkies seuns o/17 (14,91 s), William Mohlaloga – seuns o/15 100m hekkies (14,57 s), Sello Nyawene – 1 500 m seuns o/19 (04:18,22 s), Peter Tau – 1 500 m seuns o/19 (04:18,44 s), Pontso Ngobeni – 3 000 m seuns o/19 (09:48,79 s),
• Gaby Nel – hoogspring meisies o/19 (1,45 m), Venessa Engelbrecht – hoogspring meisies o/19 (1,30 m) en Lachelle de Beer – 300 m hekkies meisies o/14 (51,87 s).
Hierby foto’s van die dag se opwinding vasgevang met die hulp van Ockert van der Westhuizen.







