Interhoër: Dis hier!
Hoërskool Hans Strijdom se spog sintetiese atletiekbaan is splinternuut oorgedoen vir Saterdag se aksie en opwinding wanneer die eerste skote by die 53ste Bosveld Interhoër gaan klap.
MOKOPANE – Sewe skole se top atlete gaan hier op Mookgophong sake uitspook om die gesogte Interhoërtrofee op te raap, terwyl die leerders op die pawiljoen gees gaan vang om die sangbeker te verower.
Maande se harde werk is ingesit om alles glad te laat verloop en wanneer die hekke teen ligdag (05:00) oopmaak begin ‘n sportskouspel uit die boonste gestoeltes. Die toeskouers kan uitsien na die dirigente se opkoms op die veld, die atlete wat in skoolverband om die baan gaan stap en dan als gaan insit om ‘n wenplek op die podium te verower.
Hoërskool Hans Strijdom is net een van twee skole in die land met ‘n sintetiese atletiekbaan en om dit in tip-top kondisie te kry het nie net baie geld gekos nie, maar ook maande se werk. Die skool en sy ouers het tot nou behoorlik moue oprol om vir ‘n onvergeetlike dag te kan sorg.
Die Hansies se blou vlam brand hoog en die skool wil vanjaar saam met talle medaljes weer die prestasie beker opraap, dan sal dit ses in ‘n ry wees.
Hier in Mokopane is Hoërskool Piet Potgieter se atlete en leerders gereed om hulle beste te gee. Die skool gaan probeer om die Interhoertrofeë en sangbeker wat nou al twee jaar voor in die portaal staan, hier te hou. Dit sal ‘n riem onder die hart wees as Piet Pot weer wen, sê waarnemende skoolhoof, Cas Badenhorst, wat vanjaar die leisels stewig vashou. Hy glimlag trots want sy skool het tot nou toe, al hulle vriendskaplike byeenkomste gewen.
Hoërskool Hans Strijdom nooi die gemeenskap uit om in groot getalle op te trek om die Hansiekultuur in die Bosveld te kom ervaar. Dit kos R25 vir volwassenes en R10 vir kinders om in die pret te kom deel. Om binne die terrein te parkeer kos R30 per motor. Die dag se program sal by die hekke beskikbaar wees teen R20.





