Twee Oseane in hulle sak
Die langasems van die Potties-Atletiekklub het gedurende die Paasnaweek in die 46ste Twee Oseane-wedloop presteer en medaljes ingeryg.
MOKOPANE – Katijah Essack, Aubrey Baloyi, Sarie Coetzee en Estelle Geerkens het op Goeie Vrydag met ‘n 5,6 km pretdraf afgeskop. Farhana Seedat het haar vernuf in die 12 km wedloop gewys en dit binne 01:55 minute voltooi.
Altesaam 12 van die klub se atlete het verlede Saterdagoggend voor sonop op Nuweland aangetree om onderskeidelik die 21,1 km marathon en die bul van ‘n 56 km ultra-marathon by die horings te pak.
Die volgende atlete het die 21,1 km kafgedraf: Andrea Ferreira (02:20 min), Neil Kruger (03:08 min), Daleen van Zyl (02:22 min), Elsje Swanepoel (02:12 min) en Christiaan Swanepoel (02:25 min).
Die volgende vasbyters het die 56 km oorwin: Estelle Geerkens (05:13 min), Annemarie Kruger (05:58 min), Cecilia Ferreira (06:39 min), Khatijah Essack (06:34 min), Aubrey Baloyi (06:16 min), Sarie Coetzee (06:20 min) en Johannes Molokomme (06:07:38 min). Die tye is volgens Race Tec en word gemeet ‘gun to mat’.
Elkeen van die atlete wat die ultra-marathon binne ses ure voltooi het, spog met ‘n bronsmedalje en die wat dit binne sewe ure voltooi het, pronk met ‘n blou medalje.






