Hansievlam brand hoog
Vier van Hoërskool Hans Strijdom se rugbyleeus het gedurende die 24ste Mauritz Hansen Rugby-week hard op die veld gebrul en vir hulle ‘n plek in die toerspan bespreek.
MOOKGHOPONG – Daarby het die Hansies se eerste- en 0/16 hokkiespan ook as kampioene uit die stryd getree.
Die immergewilde 24ste Mauritz Hansen-rugbyweek wat op Mookgophong gehou is, het rugby- en hokkiespelers van top skole regoor die land gelok en wéér vir ‘n sportskouspel op Hansies se velde gesorg.
Die Hansieweek het behoorlik die koring van die kaf geskei en Ruben de Vos, een van Hansies se uitblinkers op die rugbyveld, het die trofee vir o/16 speler van die wedstryd opgeraap. Pieter Nieman, HP van der Walt, Michael Pauer en Marco Benade het hul rugbykrag gewys en ‘n plek in die Mauritz Hansen-vyftiental bespreek. Die span sal gedurende Oktober saam met Travel & Sport na Italië toer.
Marine Visser van Hansies het gewys sy is ‘n krag om mee rekening te hou en is as eerstespan-speler van die Hansieweek aangewys en Chané Pinto is as o/16 speler van die week vereer.
Na ‘n titaniese rugby-eindstryd verlede Saterdag het die eerstespan van Hoërskool Oos-Moot met ‘n oortuigende oorwinning van 15-0 oor Hoërskool Zwartkop vir die vyfde keer, sedert die Hansieweek in 1993 afgeskop het, koning gekraai.
Die Hansies se hoof, George Klopper bedank al deelnemende skole, die organiseerders vir die haarfyn beplanning en al die toeskouers vir hul ondersteuning. “Ek is trots op elke Hansie wat hulle blou vlam behoorlik gedurende die week gebrand het en ek wens elke speler van die wedstryd en die spelers wat vir die toerspan gekies is geluk.”









