Fietsryers troef grondpaaie
Die Spur Skolebergfietsreeks in Limpopo is in volle gang en die fietsryers van Laerskool Krugerpark en Hoërskool Piet Potgieter stel nie teleur nie.
MOKOPANE – Hein du Plessis, afrigter van dié spanne, sê Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se ryers is tans vierde in die reeks vir hoërskole na die twee wedrenne wat voltooi is. Hy wys daarop dat HPP slegs vyf fietsryers het wie teen skole met 30 en 40 deelnemers in Limpopo kompeteer. “Hulle vaar tot nou uitstekend. Arno Smit is onoorwonne in die sub-juniorafdeling met Brandon Janse van Vuuren in die vierde plek.
“Arno se ouer broer, Carel, is tweede in sy ouderdomsgroep met Eldric Bekker in die vierde plek.”
Laerskool Krugerpark is in die sewende plek uit die 19 laerskole wat deelneem. Die Krugies se jongste ryer, Jayden Mostert is net ses jaar oud. Met die Tour de Gat op Phalaborwa en die Tour de Lake in die Haenertsburg-omgewing agter die blad, is die volgende wedren die Tour de Pot. Die wedren word op 3 September in die Wildteelsentrum op Mokopane gehou.
Hein vra die gemeenskap om al die spanne te kom ondersteun.
Daar is ook ‘n heerlike kompetisie vir nuwe fietsryers wat hulle vernuf kom wys. Deur deel te neem staan hulle ‘n kans om met ‘n gelukstrekking een van twee bergfietse wat Dust-a-Side geskenk het, te wen.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za






