Krugies triomf by vissegala
Die volgende Laerskool Krugerpark swemmers het gewys hulle is 'n krag om mee rekening te hou:
MOKOPANE – Sowat 220 ywerige swemmers van Laerskool Krugerpark het Maandag hulle swemvernuf tydens die skool se vissegala op die proef gestel.
Die leerders van gr.1 tot 7 was slaggereed om soos vaartbelynde visse deur die water te sny in ‘n poging om vir hulle ‘n plek in die swemspan te bespreek.
Terwyl die swemmers vir naelbytaksie in die water gesorg het, het die ouers en toeskouers hulle luidkeëls toegejuig. Die volgende swemmers het gewys hulle is ‘n krag om mee rekening te hou: Carmi Schoeman is as junior Victrix Ludorum aangewys en Michael Alberts as junior Victor Ludorum. Bernice la Boff is as senior Victrix Ludorum gekroon en Ruben Glover as senior Victor Ludorum. Ansie Glover, swemorganiseerder by Laerskool Krugerpark, sê ‘n menigte van die jong swemmers het hope talent en sy is oortuig dit gaan ‘n goeie swemseisoen wees.
Die swemspan gaan aan hulle eerste vriendskaplike gala op 29 September in Bela-Bela deelneem.