Pienk voetspore vir kanker
Meer as 'n twintigtal vroue, vrolik in pienk getooi, het Saterdagoggend hulle stapskoene aangetrek en aan die Cuppa for Cansa deelgeneem.
MOKOPANE – Dit is die vierde Cuppa wat deur Valerie van der Walt op hulle plaas buite Mokopane aangebied is. Met een uit 29 Suid-Afrikaanse vroue wat met borskanker gediagnoseer word, dien die Cuppa for Cansa as ‘n bewusmakingsveldtog en as ‘n eerbetoning aan vroue wat die stryd veg en aan diegene wie se lewens deur die siekte geëis is.
Van der Walt vertel: “Ons het besluit om jaarliks ‘n Cuppa for Cansa met ‘n ‘twist’ aan te bied. Nie net kuier ons heerlik oor ‘n koppie tee en ‘n ligte ete nie, maar ons moedig ‘n aktiewe leefstyl aan deur 10 km te stap.”
Maritha Nel, ‘n Kansa vrywillger, het op die dag statistieke rakende kinderkanker en borskanker in die land asook in ons dorp met die vroue meegedeel. En dit was skokkend sê Van der Walt.
“Met die goeie opbrengs van die dag kan ons help om Kansa se leuse naamlik; opvoeding, ondersteuning en navorsing, te bevorder,” sê Van der Walt verder. Sy bedank al die borge en mense wat die geleentheid bygewoon het vir hulle ondersteuning.

Hier is ‘n paar van Kansa se voorste wenke om die risiko op kanker te verlaag:
• Wees kankerslim wanneer jy jou kos uitsoek, voorberei en geniet. Vermy geprosesseerde kosse en eet baie vars groente en vrugte.
• Lewe ‘n gebalanseerde en aktiewe lewenstyl. Oefening is noodsaaklik om immuniteit en krag op te bou. As jy fiks is sal jou daaglikse verantwoordelikhede makliker wees om na te kom.
• Beperk alkoholgebruik of vermy dit geheel en al en vermy die gebruik van tabakprodukte.
• Gaan vir gereelde mediese ondersoeke en toetse. Doen maandelikse borsondersoeke en gaan vir gereelde Papsmere minstens elke twee of drie jaar. Papsmere en borsondersoeke is belangrik vir vroegtydige opsporing van kanker. Hoe vroeër kanker opgespoor word, hoe groter is jou kans om dit te oorleef.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za



