Noordelikes teen Letaba in Boet Fick-eindstryde
Hierdie naweek word die eindstryde van die eerste, tweede en derde ligas van die Boet Fick amateurligakampioenskap beslis.
POLOKWANE – Hierdie naweek word die eindstryde van die eerste, tweede en derde ligas van die Boet Fick amateurligakampioenskap beslis.
BB Truck Noordelikes se drie ligaspanne gaan teen die vyftientalle van Letaba Rugbyklub Saterdag op die tuisveld van Noordelikes in Ladanna, Polokwane, kragte meet om te sien wie is die onderskeie ligakampioene hierdie jaar.
Die eerste eindstryd vir die derdeliga-spanne sal om 14:30 begin waarna die tweede- en eersteliga-eindstryd gespeel sal word.
Noordelikes se tweedespan het die afgelope Saterdag op Kargo Pietersburg Rugbyklub se veld in die halfeindstryd teen Dendron Rugbyklub se span met 26-19 gewen.
Dendron het met onverskrokke spel hul agterstand in die tweede helfte aansienlik laat krimp en die span se twee drieë laat in die wedstryd het Noordelikes 2 byna laat groot skrik.
Gelukkig het die eindfluitjie tot groot verligting van Noordelikes die wedstryd beëindig.
Letaba Rugbyklub se eerstespan klop Messina met 28-7 om hul plek in die eersteliga-eindstryd teen huidige kampioene Noordelikes te bespreek.



