Polisie-rugbybulle kry skenking
Limpopo se manne in blou het verlede week aan die nasionale SAPD-rugbykampioenskappe in Johannesburg deelgeneem.
POLOKWANE – Limpopo se manne in blou het verlede week aan die nasionale SAPD-rugbykampioenskappe in Johannesburg deelgeneem.
Dié span het onlangs ‘n groot skenking van Konica Minolta ontvang wat vanjaar weer die span se klere vir die toernooi geborg het. Dié uitgawe beloop sowat R3 000 per speler.
Morné Etchell, die bestuurder van Konica Minolta in Polokwane, het die span se toerusting aan hulle oorhandig.
“Ek vertrou dat die span Limpopo se naam sal hoog hou by die toernooi en ons wens hulle voorspoed toe,” het Etchell tydens die geleentheid gesê.
Konica Minolta is al vir meer as ‘n dekade die trotse borg van die Limpopo SAPD rugbyspan vir die toernooi.
Die Limpopo polisiespan het verlede jaar ‘n vierde plek in die toernooi verwerf en was vasbeslote om hul plek op die ranglys vanjaar te verbeter.
Die toernooi, wat by die Bill Jardim stadion gespeel is, het Sondag op ‘n einde geloop.
Die nasionale SAPD-rugbyspan en ontwikkelingspan wat oor twee maande teen die Suid-Afrikaanse Weermag sal speel, is ook tydens die toernooi gekies.
Verlede jaar is ses Limpopo-spelers, naamlik Reynecke Schutte, Wallie Kubanek, Shakes Lediga, Thulanie Mathonzi, Herman Lange en Andries Lediga vir die spanne gekies.
Die spankaptein, Bronwyn Buys, het Konica Minolta bedank vir die firma se volgehoue ondersteuning.



