Een uur, een man, 302 armdrukke lei tot ‘n nuwe SA-rekord vir Danie
Danie Fourie, 'n voormalige leerder van HTS Tom Naudé het Donderdag 'n Suid-Afrikaanse armdrukrekord opgestel nadat hy 302 armdrukke in minder as 'n uur gewen het.
POLOKWANE – Danie Fourie, ‘n voormalige leerder van HTS Tom Naudé het Donderdag ‘n Suid-Afrikaanse armdrukrekord opgestel nadat hy 302 armdrukke in minder as ‘n uur gewen het.
Fourie van Lynx Armdruk Klub het die uitdaging aangepak as deel van ‘n fondsinsameling vir die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé in samewerking met Nashua Limpopo en Contra Printing.
Hy het R6 000 ingesamel om ‘n afdak by die skool te bou. “Ons het oorspronklik vir 200 armdrukke gemik siende dat die vorige rekord 180 was,” vertel Fourie.
“Maar toe het ek nog tyd en krag oor na ek 200 drukke bereik het.”
Fourie, wat die eerste 100 armdrukke in sowat 10 minute agter die blad gekry het, beoog om volgende jaar weer die rekord op te stel.
Hy het in 2011 negende in die wêreldkampioenskappe in Brasilië geëindig en is tans eerste op die ranglys van 110 armdrukkers in Suid-Afrika.
“Ons wou die sport bemark en wys dat dit nie net ‘n kroegsport is nie,” sê hy.
Fourie gaan in November weer aan die wêreldarmdruk- kampioenskappe deelneem.



