2 speel nou ‘n barshou vir SA se aksiespan
Twee aksiekrieketspelers van Polokwane is onlangs gekies vir die Suid-Afrikaanse o/25-aksiekrieketspan.
POLOKWANE – Twee aksiekrieketspelers van Polokwane is onlangs gekies vir die Suid-Afrikaanse o/25-aksiekrieketspan.
Gustav de Beer en Johnny Uys is albei vir die eerste keer gekies om deel van die Suid-Afrikaanse o/25-span te wees.
“Ek was regtig verbaas, want ek het nie verwag dat ek in die nasionale span sou speel nie,” het Uys aan Review vertel.
Uys speel vir die afgelope vier jaar al aksiekrieket en sien boulwerk as ‘n uitdaging wat hy moet oorkom.
“Ek geniet dit om op die buiteveld te speel en om te kolf. Ek sien dié twee aspekte as my sterkste punte,” het hy verduidelik.
De Beer het vertel dat hy aksiekrieket geniet omdat dit ‘n spansport is en omdat dit ‘n goeie ma-nier is om fiks te bly.
Die 20-jarige kolwer van Polokwane speel die afgelope vier jaar al aksiekrieket.
“Ek sien uit daarna om aksiekrieket op ‘n nasionale vlak te speel. Ek sien dit as ‘n voet in die deur om in 2016 aan die wêreldbeker deel te neem,” het hy gesê.
Hulle sal saam met die nasionale span ‘n binnelandse toer meemaak later vanjaar.



