Noordelikes laat Potties struikel
BB Truck Noordelikes het verlede Saterdag teen 'n begeesterde span van Potgietersrus Rugbyklub te staan gekom in die eerste van twee uitspeelwedstryde om vir die Cell C-gemeenskapsbeker te kwalifiseer.
POLOKWANE – BB Truck Noordelikes het verlede Saterdag teen ‘n begeesterde span van Potgietersrus Rugbyklub te staan gekom in die eerste van twee uitspeelwedstryde om vir die Cell C-gemeenskapsbeker te kwalifiseer.
Noordelikes het teen rustyd 26-15 voorgeloop en in die eerste helfte vier keer agter die doellyn gaan kuier.
Die manne van Potties het teruggeveg in die tweede helfte van die wedstryd en ‘n laaste drie na die eindfluitjie gedruk om die eintelling op 31-25, in Noordelikes se guns te laat staan.
Johan de Beer, Mynhardt Smith, Wickus Visser, CP Louw en Arno Venter het elkeen vir Noordelikes ‘n drie gedruk en Zander Byleveld het in drie doelskoppogings geslaag.
Frederick Romijn, Noordelikes se afrigter, het aan Review vertel dat die span gereed is vir die volgende uitklopwedstryd vanaand (Donderdag) en dat hy nie slapelose nagte sal hê nie.
“Ek is baie positief. Die span het goed gedoen, al het hulle vier weke laas gespeel. Ons het in die eerste helfte vier drieë gedruk,” het Romijn trots gesê.
“Die spelers was ietwat te-leurgesteld. Hulle wou met ‘n groter telling wen, maar op die ou einde van die dag is dit ‘n uit-klopwedstryd en is die wen al wat saakmaak,” het Romijn gesê.
Romijn het bygevoeg dat die span te veel hanteerfoute in die tweede helfte van die wedstryd gemaak het, maar dat dit nie kommerwekkend was nie.
Noordelikes sal weer teen Potgietersrus te staan kom in Mokopane vir die tweede uitspeelwedstryd.



