Skuts skiet medaljes los in die Kaap
Limpopo se Kleinkaliberskietklub het goed gevaar tydens die Westelike Provinsie se .22-skyfskietgeweerkam-pioenskappe.
POLOKWANE – Limpopo se Kleinkaliberskietklub het goed gevaar tydens die Westelike Provinsie se .22-skyfskietgeweerkampioenskappe.
Die kampioenskappe is in twee wedstryde met ‘n totale puntetelling van 1 200 punte beslis.
Drie skuts van Polokwane het verlede Saterdag in Atlantis naby Kaapstad aan dié .22-skyfskietgeweerkampioenskappe deelgeneem.
Die plaaslike skuts wat deelgeneem het was Rudi Myburgh, Johan Potgieter en Henso Coetsee.
Myburgh en Potgieter het in die A-klas deelgeneem en Coetsee in die C-klas.
A-klas skuts is skuts wat ‘n gemiddeld van 97,5 en meer punte uit 100 kan handhaaf, B-klas skuts is skuts wat ‘n gemiddeld van 94 tot 97,4 punte uit 100 kan handhaaf en C-klas skuts is skuts wat ‘n gemiddeld van onder 94 punte uit 100 kan skiet.
Die eerste wedstryd het om 09:00 begin en die skuts het baie goed gevaar in wonderlike weersomstandighede met byna geen wind nie.
Myburgh het die derde hoogste telling in die wedstryd behaal in die A-klas.
Met die tweede wedstryd wat om 12:45 begin het, was die pragtige weersomstandighede van die oggend iets van die verlede.
Die wind van 20km/h het behoorlik die skuts se vernuf oor ‘n afstand van 50m getoets.
Om sake verder te bemoeilik het die wind telkens tydens die wedstryd van 75 minute van rigting verander.
Myburgh wat in die laaste minuut die laaste skoot afgevuur het, het egter daarin geslaag om ‘n tweede plek in dié wedstryd los te skiet.
Met die prysuitdeling het Myburgh ‘n brons medalje vir die derde plek in die eerste wedstryd en ‘n silwer medalje vir die tweede plek in die tweede wedstryd ontvang.
Coetsee het die hoogste telling in die C-klas behaal en ‘n goue medalje gewen.



