12 dansers van Jolene’s Acrobats verwerf SA-kleure by kompetisie
In Oktober het 12 van Jolene's Acrobats se dansers aan die Suid-Afrikaanse eindronde van die American Dance Awards-kompetisie by die Aula Teater van die Universiteit van Pretoria deelgeneem en uitstekende prestasies behaal.
POLOKWANE – In Oktober het 12 van Jolene’s Acrobats se dansers aan die Suid-Afrikaanse eindronde van die American Dance Awards-kompetisie by die Aula Teater van die Universiteit van Pretoria deelgeneem en uitstekende prestasies behaal.
Al 12 dansers het ook hul Suid-Afrikaanse kleure verwerf.
Die American Dance Awards-kompetisie bestaan al vir 35 jaar en ses jaar gelede het Suid-Afrika by hierdie kompetisie aangesluit.
Van 2009 tot 2013 is hierdie kompetisie se Suid-Afrikaanse finale by Sun City aangebied, maar vanjaar het die eindronde verskuif na die Aula.
Om deel te neem moet dansers deur deelnemende dansskole voorgestel word of deur die organiseerders van die kompetisie genooi word om deel te neem.
Die Suid-Afrikaanse eindronde dien as ‘n streeksfinaal vir hierdie kompetisie. Dansers wat meer as 85% behaal in hierdie ronde verwerf nasionale kleure en dring deur na die internasionale finale van hierdie kompetisie.
Leoné Labuschagne (6), Tristin Winter (7), Ashley Rheeder (7), Jahkuska Zanna (7), Joalise Coetsee (9), Anandré Minnaar (9), Morné Labauschagne (10), Desiree Pretorius (11), Cameron Winter (13), Juandri Champaud (14), Desiree Buys (14) en Angelique Faul (17) het almal meer as 85% behaal.
Hierdie 12 dansers het ook gekwalifiseer om volgende jaar van 4 tot 13 Julie in Boston in die VS aan die finale deel te neem.
Slegs drie dansers, Desiree Buys, Juandri Champaud en Angelique Faul, sal egter van hierdie geleentheid gebruik maak omdat hul afrigter, Jolene Oosthuizen, voel die ander dansers is nog te jonk.
Van volgende jaar af sal Jolene’s Acrobats bekend staan as Jolene’s Dance Company omdat hierdie studio onlangs met Dance International geaffilieer het. Jolene’s sal dan ook balletklasse aanbied.
Indien inwoners belangstel om aan te sluit by hierdie dansskool, kan registreer vir die oudisies wat op Donderdag 27 November van 14:00 tot 16:00 in die Stoeisaal in Suidstraat aangebied word.
Jolene’s maak ook voorsiening vir pretdansers, mense wat net lekker wil saamdans sonder om aan kompetisies of eksamens deel te neem.
Vir meer inligting, skakel Jolene by 083 484 5941.











