3 trap teen verslawing
ERGE hitte, steil bulte en seer enkels is van die hindernisse wat drie dapper fietsryers moes oorkom tydens hul 1 200km rit om mense bewus te maak van die nadele van alkohol- en dwelmmisbruik.
MOKOPANE – ERGE hitte, steil bulte en seer enkels is van die hindernisse wat drie dapper fietsryers moes oorkom tydens hul 1 200km rit om mense bewus te maak van die nadele van alkohol- en dwelmmisbruik.
Casio de Sousa, sy seun Marco, en Louis Lessing het op Donderdag, 27 November oor die eindstreep in die parkeergebied van die Mokopane Mall gery en sodoende hul lang fietsryrit voltooi; alles deel van ‘n projek om geld in te samel om dwelmverslaafdes te ondersteun en te help.
Louis Lessing het gesê fietsry en liefdadigheid is twee van sy grootste passies en “daarom moes ek eenvoudig net deel wees van hierdie avontuur”.
Hy was al vantevore by liefdadigheidsprojekte betrokke en help tans by Moeggesukkel, ‘n toevlugsoord.
“Op hierdie 1 200km rit het my fokus ná die derde dag verskuif van kilometers plattrap na die interaksie met mense op die verskillende dorpe. ‘n Bonus van die avountuur was om die grootste kremetartboom in Suid-Afrika te kon sien en toe gewaar ons ook ‘n itermagô. Dit het net weereens vir my gewys dat hierdie avontuur meer is as die 1 200km doelwit voor ons oë,” het Louis vertel.
Marco de Sousa, die brein agter die projek, het vir meer as 600km saamgetrap en het gesê hy was nie eens fietsryfiks nie.
Sy pa, Casio, was die hooforganiseerder. Hy sê ‘n hoogtepunt was toe hy ‘n 10km bult by Soutpansberg oorwin het.
“Hierdie rit was ‘n groot sukses in meer as een opsig. Niemand het ernstig seergekry nie, ons het deurgedruk, baie geleer en ongelooflike mense ontmoet.”
Casio het ‘n visie vir die jeug van Mokopane en hierdie fietstoer was net die begin daarvan. “Ons wil ‘n tuiste skep waar hulle kan kuier sonder om na alkohol te gryp.”
Beide de Sousa en Lessing het gesê hulle sal weer hierdie 1 200km-uitdaging aanpak en dat hulle hele span en ondersteuners bankvas agter hulle gestaan het.
Hierdie is nie die einde nie, maar die begin, enige iemand wat belangstel om deel te vorm of ‘n bydrae wil lewer, is welkom.



