Stad se ringbalster
Sasha-Lee Willemse (20) is 'n opkomende sportster wat reeds diep spore trap in Suid-Afrikaanse ringbal- en netbalkringe.
POLOKWANE – Sasha-Lee Willemse (20) is ‘n opkomende sportster wat reeds diep spore trap in Suid-Afrikaanse ringbal- en netbalkringe.
Sy vertel dat sy haar lewe lank sportief was en op 11-jarige ouderdom begin ringbal speel het, maar eers as leerder aan Curro Heuwelkruin haar ware passie en talent vir netbal en ringbal ontdek het.
“By Curro Heuwelkruin is ons aangemoedig om aan alle sportsoorte deel te neem. Dis hoe ek agtergekom het dat ek talent het op beide die ringbal- én netbalbane,” vertel sy.
Sasha-Lee sê sy het senter gespeel in netbal en die middelblokposisie in ringbal.
“In gr. 10 het ek my eerste Suid-Afrikaanse netbal-skeidsregterseksamens afgelê en verlede jaar my laaste eksamen geslaag. Ek is nou ‘n gekwalifiseerde Suid-Afrikaanse netbalskeidsregter.”
Sy is trots op die feit dat sy vroeër vir die Suid-Afrikaanse o/13- en o/17-ringbalspanne gekies is en onlangs ook in die o/20-span opgeneem is.
Sy is een van slegs 15 ringbalspelers van Limpopo wat gekies is om aan die Ringbal Premierliga deel te neem later vanjaar.
Sasha-Lee sal later vanjaar na Kaapstad vertrek om daar by die res van die Suid-Afrikaanse ringbalspan aan te sluit vir hul toetsreeks teen Indië.
Sy vertel dat dit baie belangrik is om fiks te bly en daarom woon sy drie keer per week CrossFit-klasse by. Sy speel Donderdae ringbal en Maandae aksienetbal.
Sasha-Lee rig tans Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) se hokkie- en netbalspanne asook kortafstande in atletiek af, terwyl sy deur Oosskool se studieprogram onderwys studeer. Sy bied Afrikaans asook kuns en kultuur vir gr. 4 tot 7 aan.
Sy sê sy is dankbaar vir die geleenthede wat Oosskool haar bied en sy geniet haar studies.
Haar toekomsdroom is om vir die Protea-ringbalspan te speel en die sportsoort te bevorder.
“Ringbal is ‘n heerlike sosiale sportsoort en sal altyd een van my groot liefdes bly. Dit is moeilik om die deursettingsvermoë te hê om konstant fiks te bly, ook in die afseisoen, maar dit is wat van jou verwag word indien jy die hoogste sport wil bereik,” sê sy.



