Moné 7de op SA-ranglys
Ten spyte van 'n heupoperasie wat haar verhinder het om aan die Suid-Afrikaanse opeskermkampioenskappe deel te neem, is Moné McCabe (15) steeds sewende op die Suid-Afrikaanse skermranglys vir vroue.
POLOKWANE – Ten spyte van ‘n heupoperasie wat haar verhinder het om aan die Suid-Afrikaanse opeskermkampioenskappe deel te neem, is Moné McCabe (15) steeds sewende op die Suid-Afrikaanse skermranglys vir vroue.
Hierdie skermer, wat onlangs ‘n leerder van Hoërskool Pietersburg geword het, sê sy het verlief geraak op hierdie sportsoort wat sy eers net as ‘n aangename tydverdryf beskou het.
“Ek het drie jaar gelede begin skerm. Daar is ‘n sekere elegansie aan die sport wat my na dit aangetrek het,” sê sy.
Moné sê sy het eers verlede jaar in alle erns aan kompetisies begin deelneem. Sy speel ook netbal, maar skermkuns is haar gunsteling sport.
“My gunsteling wapen om mee te skerm is die épée. Die épée wapen mag die teenstaander op enige deel van sy lyf raak om ‘n punt aan te teken,” sê sy.
Sy sê haar vuurproef was verlede jaar in September toe sy aan die KwaZulu-Natal-opeskermkampioenskappe deelgeneem het. Daar het sy drie medaljes verwerf.
Dié tweedag nasionale toernooi is een van ses toernooie waarin deelnemers moet presteer om ‘n plek op die Suid-Afrikaanse skermranglys te kry.
Alhoewel haar gunsteling wapen die épée is, het sy by dié toernooi uitgeblink in die foil-afdelings.
Sy het ‘n silwer medalje in die o/17-katetafdeling behaal, asook ‘n silwer medalje in die o/20-juniorfoil afdeling en ‘n brons medalje in die o/17-kadet degen foil-afdeling.
Weens die heupoperasie en die terugslag wat dit vir haar beteken het, sal Moné nie die Afrika Spele in Algerië in Maart kan bywoon nie, al is sy gekies as reserwe vir die Suid-Afrikaanse o/17-skermspan wat aan hierdie spele gaan deelneem.
Moné oefen onder die afrigting van Willie Botha van die Raven Mitchell House Skermklub en haar pa, Steven McCabe van die Firebird Skermklub help ook om aan haar tegniek te skaaf.
“Die grootste uitdagings van skermkuns is hoe jy oor die geveg dink.
“Jy moet heeltyd dink hoe jy jou opponent gaan uitoorlê en altyd een stappie voor jou opponent wees,” sê sy.



