Wêreldspele, hier kom Tersia!
TERSIA Smit se volgehoue goeie prestasies in die swembad maak van haar een van die dorp se uitskieters na wie daar met groot bewondering en respek opgekyk word.
MOKOPANE – TERSIA Smit se volgehoue goeie prestasies in die swembad maak van haar een van die dorp se uitskieters na wie daar met groot bewondering en respek opgekyk word.
Tersia (59) van die plaas Moorddrift buite Mokopane, het onlangs in Johannesburg aan die Suid-Afrikaanse Meesterswemkampioenskappe deelgeneem en vir ‘n derde keer gekwalifiseer vir die Wêreld Orgaanoorplantingspele wat later vanjaar in Argintinië gehou word.
Sy het in 2005 ‘n leweroorplanting gekry en is vandag ‘n ambassadeur van die Suid-Afrikaanse Orgaanoorplantingsorganisasie wat haar daarvoor bewyer om die bewustheid van die organisasie se missie oral uit te dra.
Tersia, wat in die 50-60 jaar ouderdomsgroep deelneem het, het goeie tye opgestel in die 50 en 100 m vryslag, die 50 en 100 m rugslag, die 50 m borsslag en die 50 m vlinderslag.
Sy is opgewonde oor die geleentheid om weer aan die Spele te gaan deelneem. Sy het in 2013 nie net met goud in die 50 m rugslag weggestap nie, maar ook vir ‘n nuwe wêreldrekord gesorg.
Tersia sê sy weet vandag wat dit beteken om weer ‘n kans te kry. ” ‘n Mens waardeer dan die lewe en leef vir elke oomblik.” Sy meen te min mense weet hulle kan organe skenk. Die organe wat geskenk kan word, is die hart, lewer, pankreas, niere, longe, korneas, hartkleppe vel en been.
Dit kos niks om ‘n orgaanskenker te word nie. Die hospitaal of staat dek alle onkoste, van die oomblik van breindood en as jou familie toestemming gegee het. Enigeen onder die ouderdom van 70 met goeie gesondheid en sonder enige teken van kanker, hepatitis, diabetes of vigs kan ‘n skenker word.
Besoek die Orgaanoorplantingstigting se webwerf by www.odf.org.za of bel 0800 226611 vir meer inligting.




