Kragman met yster in sy toewyding
Leon Christaan le Roux is nie net 'n adjudant-offisier in die Suid-Afrikaanse Lugmag nie, maar ook 'n kragman wat hard oefen en graag sy sport wil bevorder.
LOUIS TRICHARDT – Leon Christaan le Roux is nie net ‘n adjudant-offisier in die Suid-Afrikaanse Lugmag nie, maar ook ‘n kragman wat hard oefen en graag sy sport wil bevorder.
Verlede jaar het hy vyfde in die nasionale kragmankompetisie geëindig, en die vorige jaar het hy ‘n derde plek verower. Hy beplan of hierdie jaar weer deel te neem, en die kompetisie sal by die Randse Paasskou oor die naweek plaasvind.
Le Roux is ‘n beroepsgesondheid- en veiligheidsbestuurder by die lugmagbasis in Louis Trichardt.
Hy sê hy oefen ten minste twee ure per dag. “Dit neem baie toewyding en selfdissipline vir my om elke dag te oefen en by ‘n oefenprogram te hou,” sê hy.
Hy moet ook verskillende aanvullings neem, en hy kan net spesifieke kosse eet, volgens sy eetplan.
“Op die oomblik kan ek nie die aanvullings en kosse, wat sowat R5 000 per maand beloop, bekostig nie.
“Tans oefen ek net hard sonder enige dieet of aanvullings. Dit op sy eie maak dit klaar moeilik om op dieselfde klas te bly as die mense teen wie ek gaan meeding,” sê Leon.
Hy sê hy het groot respek vir Ettiene Smit, Tristen O’Brien en Frikkie Page wat ook aan die kompetisie deelneem.
Hy sê hierdie jaar sal hy in die onder 105kg klas meeding, en dit gaan hom sowat R4 000 kos.
Le Roux sê hy probeer sy sport bevorder en wil graag hê die lugmag moet dit as ‘n geregistreede sport begin aanbied.
“Ek geniet die sport en dit is vreeslik ontspannend. Die atlete is almal ondersteunend tot mekaar veral tydens die kompetisies.”
Le Roux nooi almal wat belangstel in die sport om hom te kontak.
Enigiemand wat Le Roux wil borg kan hom by 079 012 2263 skakel.



