Sy is vinnig oppad na die Olimpiese Spele
Die appel val nie ver van die boom af nie en Zenobea Jewaskiewitz (15) volg diep in haar pa se voetspore op die atletiekbaan.
POLOKWANE – Dié 100 m- en 200 m-atleet het die afgelope paar maande die rekordboeke besig gehou soos sy een rekord na die ander verbeter het en Review het ‘n kans gekry om met haar te gesels oor haar liefde vir atletiek.
Sy is die rekordhouer van die o/17- meisies 100 m en 200 m in Limpopo en ‘n atleet in murg en been.
Sy het aan atletiek begin deelneem as ‘n kleuter in Suikerbekkie Kleuterskool.
“Ek het atletiek baie geniet op kleuterskool en sodoende besef dat ek baie talent en potensiaal het. Onder die wakende oog en bekwame afrigting van my pa het ek my tegniek verbeter en sodoende op baie rekords kon verbeter,” sê sy.
Deon is self ‘n kranige atleet en is een van Suid-Afrika en Afrika se top atlete in die 100 m en 200 m items.
Bo en behalwe sy prestasies op die atletiekbaan is hy ook ‘n bekende afrigter en pastoor in die stad.
Onder sy afrigting hardloop Zenobea die 100 m in ‘n indrukwekkende tyd van 0:11:92 sekondes en die 200 m in 0:24:90 sekondes.
Vir Zenobea is atletiek baie lonend en sy geniet dit om tyd in die buitelug te spandeer en om die vrugte van haar harde werk te pluk.
“Ek hou van die gevoel van vervulling as ek op my tye kan verbeter en ek leer soveel meer oor myself en my vermoë,” vertel sy.
Sy sê dat alhoewel sy graag aan netbal en die 100 m hekkies wil deelneem, moet sy baie van haar tyd wy aan haar oefening vir die 100 m en 200 m en sy oefen byna twee ure van Maandae tot Saterdae.
Haar doelwit is om eendag haar Suid-Afrikaanse kleure vir atletiek te verwerf en teen ander atlete van regoor die wêreld mee te ding.
“My groot droom is om eendag ‘n Olimpiese Spele goue medalje in my vertoonkas uit te stal,” vertel Zenobea.
Sy is vinnig op pad om hierdie droom te bewaarheid. Sy het onlangs aan die Varsity Atletiekbyeenkoms by die Universiteit van Johannesburg deelgeneem waar sy teen o/19-atlete meegeding het en ‘n brons medalje verower het.
“Die atleet wat die item gewen het is die vorige o/17 World Youth Champion en Zenobea was slegs ‘n kort ent agter haar,” vertel Zenobea se pa, Deon, trots.
Een van Zenobea se rolmodelle is die huidige 200 m wêreldrekordhouer, Dafne Schippers van Nederland (0:21:63 sekondes). Haar pa is een van haar ander rolmodelle en sy bewonder sy uithouvermoë.
“My pa is ‘n wonderlike en toegewyde atleet, hy doen alles saam met die atlete wie hy afrig en neem self nogsteeds deel aan atletiek,” sê sy trots.
In haar vrye tyd geniet sy dit om saam met haar vriende te gaan fliek en saam met hulle te kuier.
“Atletiek is vir my ‘n pragtige sport en ek glo dit help jou om ‘n gesonde balans in jou lewe te handhaaf. Vasberadenheid, dissipline, konsentrasie en die wil om te wen is die sleutel tot sukses wanneer dit kom by atletiek.”
Sy streef om ‘n gesonde lewenslustige tiener te wees in akademie en atletiek en om kwaliteit tyd saam met haar ouers en haar broer te spandeer.
“Die geloof in my Skepper en Sy bystand is vir my ‘n noodsaklike element my lewe, my familie is ook een van my noodsaaklike steunpilare in my daaglikse pogings om die beste te wees wat ek kan wees.”
Zenobea se raad aan diegene wat graag aan atletiek wil deelneem is om so vroeg as moontlik jou passie te begin nastreef. “Raak verlief op die sport, beoefen jou talent alreeds in jou laerskooljare en kry ‘n goeie afrigter wat die sport van binne en buite af ken en jou liefde en passie vir die sport deel.
“Daarna kom die harde werk, oefen hard in die gimnasium en op die baan om jou stamina te verbeter. Druk jouself tot jou limiet oor en oor, todat jy naar word en voel jy kan nie meer nie, dan staan jy op en druk jouself nog so bietjie verder.”





