Local sportSport

Plaaslike skopbokser gekies om land te verteenwoordig oorsee

2015 Junior Wêreldskopboks-kampioen, Stefan Pretorius (15), is onlangs gekies om later hierdie jaar na Spanje te vertrek waar hy Suid-Afrika vir 'n tweede keer gaan verteenwoordig op 'n internasionale vlak.

POLOKWANE – Hy het gedurende Destiny Suid-Afrika, een van Suid-Afrika se grootste skopbokskampioenskappe, gekwalifiseer om in die NMA-ISKA Wêreldskopbokskampioenskappe deel te neem.

Stefan het verlede jaar aan die NMA-ISKA Wêreldskopboks-kampioenskappe deelgeneem waar hy Suid-Afrika in Amerika verteenwoordig het in die junior gevorderde swargordelklas.

Gedurende die kampioenskappe was Stefan as ‘n wêreldkampioen gekroon toe hy eerste in die puntgevegte gekom het. Hy het ook ‘n tweede plek vir die botsgevegte ingepalm.

Review het die geleentheid gekry om met Stefan Pretorius te gesels oor sy passie en motivering vir die sport

“Ek het aan skopboks begin deelneem toe ek vyf jaar oud was. Dit was eers ‘n manier vir my om fiks te word en om dissipline te leer, maar ek het baie vinnig besef ek het ‘n groot liefde en talent vir dié sport,” vertel Stefan.

Hy sê alhoewel hy nie van geweld hou nie, geniet hy die sport vir die dissipline, fiksheid en styl wat met die sport geassosieer word.

Alhoewel hy die sport baie geniet, kan die gradering en die strawwe fiksheidsoefeninge veeleisend raak.

“Die skopboksers op internasionale vlak is baie anders as dié op Suid-Afrikaanse vlak. Die kompetisie is vir my meer uitdagend op internasionale vlak,” vertel hy.

Stefan sê sy ouers ondersteun hom voluit.

Hulle is baie toegewyd om hom op die toere te stuur, só toegewyd dat sy pa bedank het en sy pensioenfonds gebruik het om vir die toere te betaal.

“Dit was alles die moeite werd en ‘n baie goeie belewenis vir ons, nie net om Amerika te sien nie, maar om ons seun in aksie te kon sien. Ons is baie trots op hom en wat hy sover al in die sport bereik het,” vertel Stefan se ouers, Johnny en Heleen Pretorius.

“My ouers motiveer my as ek aan kompetisies deelneem en ek waardeer hulle vertroue en toewyding in my vermoë,” vertel Stefan.

Hy oefen twee maal per week onder die wakende oog van sy afrigter, Nico Myburg.

Hy sê hy sal graag wil aanhou om die sport te beoefen en dat hy eendag die seniorwêreldkampioen-titel wil verwerf en aan MMA (Mixed Martial Arts)-toernooie deel te neem.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button