Jong swemmer is stewig geanker
Ruan Buitendach (13) se trofeëkas spog nou éérs, nadat hy onlangs aan die Vlak Een Nasionale Swemkampioenskappe wat in Germiston gehou is deelgeneem het.
POLOKWANE – Hy het sy afrigter en familie verras toe hy twee goue medaljes verower het; in die 200 m vryslag, en die 200 m individuele wisselslag.
Ook swem hy ‘n tweede plek los in die 200 m borsslag en ‘n derde plek in die 100 m borsslag.
Ruan swem reeds die afgelope drie jaar onder die bekwame oog van plaaslike afrigter, Douggie Eagar, en oefen tans vir vlak 2.
“Ek swem reeds sedert ek jonk was, maar het regtig eers in gr. 6 op swem begin fokus.”
Tans oefen dié Hoërskool Pietersburg-leerder vyf dae ‘n week met die droom om eendag op senior nasionale vlak deel te neem en wie weet, dalk ook eendag aan die Olimpiese Spele.
“Ek hou van swem omdat ek weet ek sal altyd fiks en gesond bly en ek hou ook van die kompetisies,” vertel hy.
Swem het egter ook uitdagings.
“Ek probeer altyd beter wees as die vlak waarop ek meeding. Ek probeer altyd my tye verbeter en ek vergelyk myself gereeld met swemmers wat op ‘n hoër vlak as ek is,” verduidelik Ruan.
Ruan vertel hy bewonder die bekende Suid-Afrikaanse swemmers, Lyndon Ferns en Chad le Clos.
“Ek het hulle al ontmoet en het raad van albei ontvang,” sê hy trots. Dié jongman se voete is geanker: “Met die Here is enigiets moontlik, as jy nie op jouself staatmaak nie maar saam met die Here staan, sal jy ver kom”.



