Potties rugbyspanne sorg vir heuningsoete seges
Potties Rugbyklub se eerstespan is steeds op die wenpad in die Limpopo seniorliga na 'n skitter sege verlede Saterdag teen die span van die Universiteit van Venda in Thohoyandou
MOKOPANE – Die groot skare en gedruis van liedere het nie die spelers geintimideer nie en Potties het met 48 – 12 geseëvier toe die eindfluitjie blaas. Phillip Fuls enWillem Dryer het elk vir twee drieë gesorg. Deon Klein, Ruan Potgieter en Phil Herselman het ook agter die doellyn oorgeduik vir goeie drieë.
Jan Vorster het met sy skopskoen vyf doelskoppe oorgeklits en ook met ‘n strafdoel geslaag.
Nico Els is as voorspeler van die wedstryd aangewys en Willem Dryer as die beste agterspeler. Hulle het elkeen ‘n eetbewys van die Dros Restaurant ontvang.
Potties se tweedespan het Vrydagaand teen Mussina se eerstespan uitgedraf en met die louere weggestap nadat Wikus Pretorius, Wickus Visser en Antony Hawken elkeen vir ‘n drie gesorg het. Hawken het ook een van die drieë verdoel.
Die voorspeler van die wedstryd, Gerrit du Plessis, alias Bees, en die beste agterspeler, Lionell Smit, het elk ‘n eetbewys van die Dros ontvang.
Die klub se bestuur en afrigters is trots op al die spelers en sien uit na die wedstryde wat voorlê. Die spanne draf Saterdag uit teen Letaba op Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se velde na afloop van HPP se kragmeting teen Hoërskool Hans Strijdom. Die tweedespan se wedstryd skop 17:00 af, gevolg deur die eerstespanne wat om 18:30 mekaar die stryd aansê.
Potties is tans eerste in die liga met 10 punte, gevolg deur Louis Trichardt en Letaba elk met nege punte. Potties se tweedespan is sesde op die punteleer met Letaba se tweedes wat drie punte voor hulle is.
Potties Rugbyklub bedank al die borge. ‘n Spesiale dank aan MicroMatica Transport vir die gebruik van hulle bus, asook aan NTT Toyota Potties, Tony’s Cash and Carry, Talisman Hire, Nylpark, NTK, Tan Slaghuis, Caltex The Ranch, Dros, Coetzer De Beer Prokureurs, Frans Fourie Rekenmeesters, HF Mining, BB Auto, Wimpy, BMG, Elbar Bande, Walkie Kruger, Havenga droogskoonmakers, Net die beste Slaghuis, Midas, Meat City, IPEX Petroleum, Crystal Waters, Dr. J vd Berg, PPrus apteek, Farmakon en Shonalanga Milling.






